2 Samuel 15

15
Absalom probeer koning word
1’n Ruk later het Absalom vir hom ’n kar en perde gekry en 50 manne wat sy lyfwag was. 2Hy het elke môre vroeg opgestaan en langs die pad gaan wag waar die mense in die stad inkom. Elkeen wat ’n hofsaak gehad het en wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing het daar verbygegaan. Dan het Absalom die man geroep en vir hom gevra waar hy vandaan kom. As hy sê hy kom uit een van die dorpe van die Israeliete, 3sê Absalom vir hom: “Jong, al het jy ’n goeie saak, is ek bevrees jy sal nie ’n regverdige verhoor by die koning kry nie.” 4Hy voeg dan sommer by: “As ék darem die hoogste regter was, sou elkeen wat met sy saak na mý toe gekom het ’n regverdige uitspraak gekry het, hoor!” 5As enigiemand na hom toe gekom het om voor hom te buig, het Absalom sy hand gevat en hom nader getrek en omhels. 6Hy het met al die Israeliete wat na die koning toe gekom het vir ’n beslissing, so gemaak. Op dié manier het Absalom die Israeliete se harte gewen.
7Na vier jaar het Absalom vir die koning gesê: “Ek wil baie graag ’n belofte wat ek vir die Here gemaak het, in Hebron gaan nakom. 8Toe ek nog in Gesur by die Arameërs was, het ek vir die Here belowe dat, as Hy my regtig na Jerusalem toe terugbring, ek vir Hom in Hebron sal gaan offer.”
9Die koning het gesê: “Gaan maar, en ek hoop alles gaan goed.”
Hy het dadelik Hebron toe gegaan. 10Intussen het hy in die geheim vir al die stamme in Israel se leiers laat weet: “As julle hoor die mense blaas op ramshorings, moet julle skree: ‘Absalom het koning geword in Hebron!’”
11Daar het 200 mans saam met Absalom van Jerusalem af na Hebron toe gegaan. Hulle was genooi en het ewe onskuldig saamgegaan, want hulle het niks van die hele affêre geweet nie. 12Absalom het ook vir Agitofel wat in die dorpie Gilo gebly het, na die offerfees laat kom. Agitofel het altyd vir Dawid goeie raad gegee. So het Absalom se geheime plan al hoe gevaarliker geword, want meer en meer mense het by hom aangesluit.
13Toe Dawid hoor die Israeliete het Absalom se kant gekies, 14sê hy vir al sy amptenare wat by hom in Jerusalem is: “Ons moet maak dat ons wegkom, voor Absalom ons in die hande kry! Julle moet gou maak en padgee, anders keer hy ons hier vas en dan het ons groot moeilikheid. Hy sal die mense in die stad voor die voet doodmaak.”
15Hulle het vir die koning gesê: “Ons sal doen wat u sê, U Majesteit. Ons staan by u.”
16Die koning is te voet uit die stad uit en al sy mense is agter hom aan. Hy het net tien van sy haremvroue in die paleis gelos om die plek op te pas. 17Toe die koning uit die stad gaan, is al sy eie manskappe ook agterna. By die laaste huis het die koning en sy mense gaan staan. 18Al die koning se eie soldate en sy hele lyfwag het voor hom verbygegaan. Die 600 man uit Gat wat by hom aangesluit het, het ook voor hom verbygegaan. 19Hy sê toe vir Ittai, die leier van die manne van Gat: “Hoekom gaan jy ook saam met ons? Gaan terug en bly by die nuwe koning. Jy kom uit ’n ander land en jy kan nie na jou eie plek toe teruggaan nie. 20Jy is maar ’n kort rukkie by ons en nou moet jy al weer oral rondtrek saam met ons. Ek weet nie eens waar ek heengaan nie. Laat jou mense teruggaan. Ek hoop dit gaan baie goed met jou.”
21Maar Ittai sê vir die koning: “Ek bly by u, my koning, so waar as die Here leef, en so waar as u leef. Waar u is, of dit nou in die lewe of in die dood is, sal ek ook wees.”
22“Goed,” sê Dawid, “bly dan maar by ons.”
Ittai, die man uit Gat, en al sy manskappe met hulle vroue en kinders het toe by Dawid-hulle gebly. 23Die hele omgewing se mense het hardop gestaan en huil toe al Dawid se manskappe so verbytrek. Die koning is toe self ook saam met sy mense deur Kidronspruit in die rigting van die woestyn. 24Sadok en al die Leviete was ook in die groep. Hulle het die verbondsark van God by hulle gehad en dit op ’n plek neergesit waar Abjatar offerdiere verbrand het totdat almal wat saam met Dawid gegaan het, uit die stad was.
25Die koning sê toe vir Sadok: “Vat die ark van God terug stad toe. Miskien sal die Here vir my goed wees en my laat terugkom sodat ek die ark en die plek waar hy staan, weer sal sien. 26As die Here besluit Hy wil my nie meer hê nie, is dit goed so. Hy kan dan maar met my maak wat Hy wil.”
27Dawid het ook vir die priester Sadok gesê: “Jy moet sake vir my dophou. Gaan rustig terug stad toe saam met Abjatar en julle twee seuns Agimaäs en Jonatan. 28Ek sal by die deurgaanplekke in die Jordaanvallei wag totdat julle vir my laat weet wat aangaan.”
29Sadok en Abjatar het die verbondsark van God teruggevat Jerusalem toe en daar gebly.
30Dawid het die hele tyd geloop en huil toe hy teen die Olyfberg se rant opgegaan het. Hy was kaalvoet en hy het sy gesig toegehou. Almal wat saam met hom was, het ook kaalvoet geloop en huil en hulle gesigte toegehou. 31Iemand het vir Dawid vertel dat Agitofel saam met Absalom was in sy geheime plan. Dawid het maar net gesê: “Ag Here, steek tog ’n stokkie voor Agitofel se raad.”
32Toe Dawid bo-op die Olyfberg kom waar die mense gewoonlik bid, wag Gusai, die Erekiet, daar vir hom. Die man se klere was geskeur en daar was grond op sy kop. 33Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, gaan jy net in my pad wees. 34Maar as jy teruggaan stad toe, kan jy my help en die planne van Agitofel dwarsboom. Sê vir Absalom jy wil vir hom werk. Sê vir hom jy het voorheen vir my gewerk, maar nou is hy jou baas. 35Die twee priesters, Sadok en Abjatar, sal ook in Jerusalem wees. Sê vir hulle alles wat jy in die paleis hoor. 36Hulle twee seuns, Agimaäs en Jonatan, sal ook daar wees en hulle sal vir my alles kom sê wat julle uitvind.”
37Gusai, Dawid se ou vriend, het teruggegaan. Toe hy in die stad kom, kom Absalom ook daar aan.

Tans Gekies:

2 Samuel 15: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid