2 Kronieke 26

26
Ussia word koning van Juda
1Die mense van Juda het toe Amasia se seun Ussia, wat maar sestien jaar oud was, koning gemaak in sy plek. 2Hy het Elat herbou en dit weer onder Juda se beheer geplaas.
3Ussia was sestien toe hy koning geword het. Hy het 52 jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Jekolja, van Jerusalem. 4Die Here was tevrede met wat Ussia gedoen het, net soos met sy pa Amasia. 5Sagaria het vir Ussia baie van God geleer. So lank as wat Ussia die Here gedien het, het God aan hom sukses gegee.
6Hy het teen die Filistyne gaan oorlog maak en die mure van die stede Gat, Jabne en Asdod afgebreek. Daarna het hy nuwe dorpe in die omgewing van Asdod en die res van Filistea gebou. 7God het hom nie net in sy oorloë teen die Filistyne gehelp nie, maar ook toe hy teen die Arabiere van Gur-Baäl en teen die Meüniete geveg het. 8Selfs die Ammoniete moes aan hom belasting betaal. Hy was later tot in Egipte bekend, want hy was teen hierdie tyd ’n baie magtige koning.
9Ussia het torings in Jerusalem gebou by die Hoekpoort, die Valleipoort en by die hoek in die muur. Hy het die torings soos forte versterk. 10Hy het ook forte in die woestyn gebou en baie waterputte uitgekap. Dit was nodig omdat hy groot kuddes vee in die heuwelland van Juda en op die vlaktes gehad het. Hy was lief vir boerdery en het baie mense gehad wat op sy plase en wingerde teen die heuwels en in die vrugbare valleie gewerk het.
11Ussia se leër was goed georganiseerd en goed opgelei. Hulle was reg om enige tyd oorlog te maak, want hulle is in afdelings ingedeel deur die leërsekretaris, Jeïel, en die stafoffisier Maäseja. Hulle twee het onder die gesag gestaan van Ganaja, ’n amptenaar van die koning. 12Die afdelings geoefende soldate het onder bevel van 2 600 familiehoofde gestaan. 13Die leër het uit 307 500 uitgesoekte soldate bestaan. Die koning kon op hulle reken wanneer hy teen enige vyand moes veg. 14Ussia het die leër uitgerus met skilde, spiese, helms, harnasse, pyle en boë, en slingerklippe. 15Hy het ook goeie veiligheidsraamwerke gehad wat op die torings en die hoeke van Jerusalem opgerig is. Van daar af kon hulle pyle afskiet en groot klippe op aanvallers afgooi.
Ussia het wyd en syd bekend geword. Deur God se goedheid het hy baie magtig geword.
Ussia se trots en sy straf daarvoor
16Toe Ussia so magtig geword het, was hy so vol van homself dat dit tot sy val gelei het. Hy het arrogant teenoor die Here sy God opgetree. Dit het gebeur toe hy op ’n keer in die tempel van die Here ingegaan het om sommer self wierook op die altaar te gaan brand. 17Die priester Asarja en 80 dapper priesters het hom die tempel in gevolg. 18Hulle het koning Ussia gekonfronteer en vir hom gesê: “Koning Ussia, u mag dit nie doen nie. Slegs priesters uit die Aäronfamilie mag wierook vir die Here brand. Gaan dadelik uit die heiligdom uit. U het ’n groot sonde gedoen. Die Here hou niks hiervan nie.”
19Ussia het reeds met ’n wierookpan in sy hand gestaan, reg om die wierook te offer, toe die priesters hom aangespreek het. Hy was woedend oor wat hulle vir hom gesê het. Terwyl hy nog op hulle skree, het ’n velsiekte op sy voorkop uitgeslaan. Dit het daar in die tempel, reg langs die wierookaltaar, voor die oë van die priesters gebeur. 20Toe Asarja en die ander priesters dit sien en besef dat hy ’n velsiekte gekry het, het hulle hom vinnig uit die tempel uitgevat. Hy het vinnig daar padgegee, want die Here se straf het hom getref.
21Koning Ussia het die velsiekte gehad tot hy dood is. Hy het die res van sy lewe in afsondering deurgebring. Hy kon ook nooit weer na die tempel toe gaan nie. Sy seun Jotam het beheer oor die paleis oorgeneem. Hy het oor die mense van Juda regeer.
22Die res van Ussia se geskiedenis is deur die profeet Jesaja, Amos se seun, neergeskryf. 23Ussia is dood en hulle het hom in die veld naby die konings se grafte begrawe omdat hy die velsiekte gehad het.
Sy seun Jotam het hom opgevolg.

Tans Gekies:

2 Kronieke 26: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid