2 Kronieke 21

21
1Na Josafat se dood is hy in die Dawidstad begrawe. Sy seun Joram het na hom koning geword.
Koning Joram vermoor sy broers
2Joram se broers was Asarja, Jegiël, Sagaria, Migael en Sefatja. Hulle was almal seuns van Josafat. 3Hy het vir hulle silwer en goue en allerlei kosbare goed gegee, asook versterkte stede in Juda. Joram het koning geword omdat hy die oudste seun was. 4Toe Joram sy koningskap stewig gevestig het, het hy sy broers en sekere leiers van Israel vermoor.
5Joram was 32 toe hy koning geword het. Hy het vir agt jaar in Jerusalem regeer. 6Joram het geleef soos die meeste konings van Israel voor hom. Hy was net so sleg soos koning Agab, want hy het met een van Agab se dogters getrou. Hy het dinge gedoen wat vir die Here onaanvaarbaar was. 7Maar die Here het gelukkig nie ’n einde gemaak aan die koningshuis van Dawid nie omdat Hy vir Dawid beloof het dat daar altyd iemand uit sy nageslag op sy troon sou sit.
8In Joram se tyd het die Edomiete van Juda af weggebreek en hulle eie koning aangestel. 9Joram het die Edomiete met sy hele leër en al sy strydwaens agternagesit om sy gesag oor hulle te herstel. Die Edomiete het hom en sy strydwaens egter omsingel, maar hy het in die nag in die donker weggekom. 10Van toe af was die Edomiete onafhanklik van Juda. 11Joram het selfs in die heuwelland van Juda hoogtes vir afgode gebou en die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien.
Elia se brief vir Joram
12Die profeet Elia het vir Joram ’n brief geskryf.
Hier is vir jou ’n boodskap van die Here, die God van Dawid, jou voorvader. Hy sê: Jy het nie die goeie voorbeeld van jou pa, Josafat, en jou oupa, Asa, gevolg nie. 13Jy het net so sleg soos al die ander konings van Israel geword. Jy het die mense van Juda en Jerusalem verlei om afgode te dien, net soos Agab met die mense van Israel gedoen het. Jy het selfs jou eie broers doodgemaak. Hulle was beter mense as jy. 14Nou gaan die Here jou straf, maar nie net vir jou nie. Ook jou mense, jou kinders en jou vroue gaan erg getref word. 15Jy gaan baie ernstig siek word. Die siekte sal chronies wees, totdat jou ingewande later sal uitkom.
16Die Here het toe gesorg dat die Filistyne en die Arabiere wat naby die Kussiete woon, vyande van Joram word. 17Hulle het Juda aangeval en die paleis beroof van alles wat waardevol was. Hulle het selfs sy vroue en kinders weggevat. Net een seun, Ahasia, die jongste, het agtergebly. 18Daarna het die Here Joram met ’n chroniese siekte getref. Niemand kon hom gesond maak nie. 19Na twee jaar was hy so siek dat sy ingewande uitgekom het. Hy het baie pyn gehad en is uiteindelik dood. Sy mense het nie soos gewoonlik by die dood van konings vir hom ’n begrafnisvuur aangesteek nie.
20Joram was 32 toe hy koning geword het en het vir agt jaar regeer. Niemand was jammer toe hy dood is nie. Hy is in die Dawidstad begrawe, maar nie in een van die koninklike grafte nie.

Tans Gekies:

2 Kronieke 21: DB

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid