1 Tessalonisense 4

4
Systap sonde in die huwelik
1My liewe broers en susters, ek het julle geleer presies hoe julle moet leef om God se hart bly te maak. En julle doen dit ook. Nou vra ek julle baie ernstig in die Naam van die Here Jesus, span julle selfs nog meer in om al hierdie dinge te doen.
2Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen.
3God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. 4Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek.
5Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. 6Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes.
7God gee glad nie aan ons die reg om seksueel losbandig te leef nie. Inteendeel, ons hele lewe moet wys dat ons nou aan Hom behoort.
8Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.
Gee nog meer om vir mekaar
9Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê.
10Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om.
11Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. 12As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie.
Die wederkoms lê voor
13My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie.
14Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom. 15Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie.
16Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. 17Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.
18Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid