1 Korintiërs 12:12-26

1 Korintiërs 12:12-26 DB

’n Mens kan Christus vergelyk met ’n menslike liggaam. Daar is net een liggaam, maar die een liggaam het baie dele. Al is daar hoeveel dele, dit bly maar net een liggaam. Met die doop het die Gees ons almal so aan mekaar vasgebind, soos ’n liggaam. Dit maak nie saak wie ons is of waar ons vandaan kom of hoe belangrik mense dink ons is nie, dieselfde Gees werk in ons almal. Soos ek reeds gesê het, het ’n liggaam nie net een liggaamsdeel nie, maar baie. Sê nou die voet kla: “Ek is nie die hand nie. Daarom voel ek nie deel van die liggaam nie,” beteken dit nou dat hy skielik nie meer deel van die liggaam is nie? Nee. Hy bly deel van die liggaam. Net so min hou die oor op om deel van die liggaam te wees net omdat dit nie die oog is nie. Net om te sê: “Ek is nie die oog nie, nou voel ek nie meer deel van die liggaam nie,” verander niks daaraan dat dit deel van die liggaam is nie. As alles nou net oog was, waarmee sou ons dan gehoor het? As die hele liggaam net een groot oor was, waarmee sou ons geruik het? Nee, God het elkeen van die dele van die liggaam ’n spesiale plek in die liggaam gegee, net soos Hy dit beplan het. As die hele liggaam net uit een orgaan bestaan het, hoe sou die liggaam dan nie gelyk het nie! Natuurlik is dit nie so nie, daar is baie dele wat saam die een liggaam uitmaak. Dink julle die oog kan ooit vir die hand sê: “Ek het jou nie nodig nie,” of dat die kop dit vir die voete kan toesnou? Om die waarheid te sê, daar is dele van die liggaam waaraan ’n mens nie eens baie dink nie, maar waarsonder die liggaam glad nie kan klaarkom nie. Daar is ander dele van die liggaam wat ons nie wil hê mense moet sien nie. Daarom trek ons klere aan. So wys ons byvoorbeeld dat ons spesiaal vir hierdie liggaamsdele omgee. Aan ander dele van die liggaam waaroor ons nie skaam voel nie, gee ons ook nie so baie aandag nie. God het die liggaam juis so aanmekaargesit. Hy sorg daarvoor dat die dele wat dit nodig het, juis met meer respek behandel word. Daarom kan liggaamsdele nie onder mekaar “stry” nie. Hulle moet eerder respek hê vir mekaar en vir mekaar omgee. As een deel van die liggaam seerkry, voel die hele liggaam die pyn, en as een deel van die liggaam geprys word, voel die hele liggaam bly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid