1 Korinthiërs 12:12-26

1 Korinthiërs 12:12-26 AFR20

Want soos die liggaam 'n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so is dit ook met •Christus. En ons is tog álmal deur die een Gees in een liggaam in gedoop – Jode of Grieke, slawe of vrymense – en ons is almal met een Gees deurdrenk. Inderdaad, die liggaam bestaan nie uit een ledemaat nie, maar uit baie. As die voet sou sê, “Omdat ek nie 'n hand is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? En as die oor sou sê, “Omdat ek nie 'n oog is nie, behoort ek nie aan die liggaam nie,” behoort hy daarom nie aan die liggaam nie? As die ganse liggaam oog was, waar sou die gehoor wees? As alles gehoor was, waar sou die reuk wees? Maar nou het God die ledemate, elke enkele een van hulle, in die liggaam geplaas volgens sy besluit. As alles een ledemaat was, waar sou die liggaam wees? Maar nou is daar wel baie ledemate, maar net een liggaam. Die oog kan tog nie vir die hand sê, “Ek het jou nie nodig nie,” of die kop weer vir die voete, “Ek het julle nie nodig nie.” Inteendeel, die oënskynlik swakker liggaamsdele is baie meer noodsaaklik; en daardie dele van die liggaam wat ons as minder eerbaar beskou, klee ons met meer as die gewone eer, en die minder elegante dele met meer elegansie, terwyl ons meer elegante dele dit nie nodig het nie. Maar God het die liggaam so saamgestel, dat Hy meer respek toegewys het aan die deel wat dit die meeste nodig het, sodat daar nie verdeeldheid in die liggaam sal wees nie, maar die ledemate in gelyke mate vir mekaar sal sorg. As een ledemaat ly, ly al die ledemate saam; as een ledemaat vereer word, is al die ledemate saam bly.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid