PSALMS 89

89
Die gewisse weldade aan Dawid toegesê.
1 'n ONDERWYSING van Etan, die Esrahiet.
2Die goedertierenhede van die Here wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag.
3Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele — daar bevestig U u trou.
4Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe:
5Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela.
6En die hemele loof u wondermag, o Here, ook u trou in die vergadering van die heiliges.
7Want wie kan in die hemel met die Here vergelyk word? Wie is soos die Here onder die hemelinge,
8'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is?
9 o Here, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o Here, en u trou is rondom U!
10Ú heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring Ú hulle tot bedaring.
11 Ú het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi.
12Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid — Ú het dit gegrond.
13Die noorde en die suide — Ú het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam.
14U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe.
15 Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit.
16Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o Here, hulle wandel in die lig van u aangesig.
17In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef.
18Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef.
19Want aan die Here behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel.
20 Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef.
21 Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf,
22met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk.
23Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie;
24maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan.
25En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word.
26En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere.
27Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil!
28Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde.
29Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas.
30En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel.
31 As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie;
32as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie,
33dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid.
34Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie.
36Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie!
37Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My.
38Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela.
39Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde.
40U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond.
41 U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak.
42 Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword.
43U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak.
44Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie.
45U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp.
46U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela.
47 Hoe lank sal U, o Here, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur?
48 Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het!
49Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela.
50Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou?
51 Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke,
52waarmee u vyande, o Here, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.
53 Geloofd sy die Here vir ewig! Amen, ja amen.

Tans Gekies:

PSALMS 89: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid