PSALMS 77

77
Inwendige stryd en troosryke herinneringe.
1VIR die musiekleier; op die wysie van: „Jedútun.” 'n Psalm van Asaf.
2My stem is tot God en ek roep; my stem is tot God, dat Hy na my kan luister.
3 Op die dag van my benoudheid soek ek die Here; snags bly my hand uitgestrek sonder om moeg te word; my siel weier om getroos te word.
4As ek aan God dink, moet ek steun; peins ek, dan versmag my gees. Sela.
5U hou my ooglede oop; ek is onrustig en kan nie spreek nie.
6Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare.
7Ek wil dink aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors:
8Sal die Here vir altyd verstoot en verder nie meer goedgunstig wees nie?
9Hou sy goedertierenheid vir altyd op? Is dit met die belofte gedaan van geslag tot geslag?
10 Het God vergeet om genadig te wees? Of het Hy in toorn sy barmhartighede toegesluit? Sela.
11Toe het ek gesê: Dit is my grootste bekommernis dat die regterhand van die Allerhoogste verander!
12Ek dink aan die dade van die Here; ja, ek wil dink aan u wonders uit die voortyd
13en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade.
14 o God, u weg is in heiligheid. Wie is 'n groot God soos God?
15U is die God wat wonders doen; U het u sterkte onder die volke bekend gemaak.
16U het u volk met 'n sterk arm verlos, die kinders van Jakob en van Josef. Sela.
17 Die waters het U gesien, o God, die waters het U gesien, hulle het gebewe; ja, die watervloede het gesidder.
18Die wolke het water uitgegiet, die hemele het donder laat hoor, ook het u pyle rondgevlieg.
19 U rollende donder het weerklink; bliksems het die wêreld verlig; die aarde het gesidder en gebewe.
20 U weg was in die see en u paaie in groot waters, en u spore was nie te beken nie.
21 U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron.

Tans Gekies:

PSALMS 77: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid