PSALMS 30

30
Die toorn van God duur 'n oomblik; sy goedheid is vir ewig.
1 'n PSALM, 'n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid.
2Ek sal U verhoog, Here, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie.
3 Here, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak.
4 Here, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal.
5Psalmsing tot eer van die Here, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam;
6want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig.
7Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie.
8 Here, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg — ek het verskrik geword!
9Ek het U aangeroep, Here, en ek het die Here gesmeek:
10Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig?
11Hoor, Here, en wees my genadig! Here, wees my 'n helper!
12U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord;
13sodat my eer U kan besing en nie swyg nie. Here, my God, vir ewig sal ek U loof.

Tans Gekies:

PSALMS 30: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid