GÉNESIS 16

16
Hagar en Ismael.
1MAAR Sarai, die vrou van Abram, het vir hom geen kinders gebaar nie; en sy het 'n Egiptiese slavin gehad met die naam van Hagar.
2En Sarai het vir Abram gesê: Jy weet, die Here het my nie toegelaat om moeder te word nie. Gaan tog in by my slavin; miskien sal ek uit haar gebou word. En Abram het na Sarai geluister.
3Toe neem Sarai, die vrou van Abram, Hagar, die Egiptiese, haar slavin — nadat Abram tien jaar in die land Kanaän gewoon het — en gee haar aan haar man Abram om sy vrou te wees.
4En hy het by Hagar ingegaan, en sy het swanger geword. Maar toe sy sien dat sy swanger was, het haar meesteres veragtelik in haar oë geword.
5En Sarai sê vir Abram: Die onreg my aangedoen, is op jou! Ek self het my slavin in jou skoot gegee, en nou dat sy sien dat sy swanger is, het ek veragtelik in haar oë geword. Laat die Here oordeel tussen my en jou.
6En Abram antwoord Sarai: Daar is jou slavin in jou hand — doen met haar soos dit goed is in jou oë. Toe het Sarai haar sleg behandel, en sy het van haar af weggevlug.
7En die Engel van die Here het haar by 'n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur,
8en gevra: Hagar, slavin van Sarai, waar kom jy vandaan, en waar gaan jy heen? En sy antwoord: Ek vlug van my meesteres Sarai af weg.
9Toe sê die Engel van die Here vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande.
10Verder sê die Engel van die Here vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.
11Ook sê die Engel van die Here vir haar: Kyk, jy is swanger en sal 'n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die Here het jou in jou ellende verhoor.
12 En hý sal 'n wilde-esel van 'n mens wees: sy hand teen almal, en almal se hand teen hom! En hy sal teenoor al sy broers woon.
13Toe noem sy die Naam van die Here wat met haar gespreek het: U is 'n God wat sien. Want sy het gesê: Het ek hier ook gesien na Hom wat my sien?
14Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en Bered.
15En Hagar het vir Abram 'n seun gebaar; en Abram het sy seun wat Hagar gebaar het, Ismael genoem.
16En Abram was ses-en-tagtig jaar oud toe Hagar Ismael vir Abram gebaar het.

Tans Gekies:

GÉNESIS 16: AFR53

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid