HANDELINGE 18

18
Paulus in Korinthe, daarna in Éfese. Sy terugkeer na Jerusalem.
1EN daarna het Paulus uit Athéne vertrek en in Korinthe gekom.
2En hy het 'n Jood gevind met die naam van Áquila, afkomstig uit Pontus, wat onlangs met sy vrou Priscílla van Italië gekom het, omdat Claudius beveel het dat al die Jode uit Rome moes vertrek. Na hulle toe het hy gegaan;
3en omdat hy van dieselfde ambag was, het hy by hulle gebly en gewerk, want hulle was tentmakers van ambag.
4En hy het elke sabbat in die sinagoge gespreek en Jode sowel as Grieke oortuig.
5En toe Silas en Timótheüs van Macedónië afgekom het, was Paulus ywerig besig om aan die Jode kragtig te betuig dat Jesus die Christus is.
6Maar toe hulle aanhou om teëstand te bied en godslasterlike dinge te spreek, het hy sy klere uitgeskud en vir hulle gesê: Julle bloed is op julle hoof. Ek is rein. Van nou af sal ek na die heidene gaan.
7En hy het daarvandaan weggegaan en in die huis gekom van iemand met die naam van Justus, wat 'n godvresende man was, wie se huis naasaan die sinagoge gestaan het.
8En Crispus, die hoof van die sinagoge, het met sy hele huisgesin in die Here geglo; en ook baie van die Korinthiërs het, toe hulle hom hoor, gelowig geword en is gedoop.
9En die Here het deur 'n gesig in die nag aan Paulus gesê: Wees nie bevrees nie, maar spreek en moenie swyg nie;
10want Ek is met jou, en niemand sal die hand aan jou slaan om jou kwaad aan te doen nie, want Ek het baie mense in hierdie stad.
11En hy het daar gebly 'n jaar en ses maande lank en die woord van God onder hulle geleer.
12En toe Gállio goewerneur van Acháje was, het die Jode eenparig teen Paulus opgestaan en hom voor die regterstoel gebring
13en gesê: Hierdie man haal die mense oor om God op onwettige wyse te vereer.
14En toe Paulus sy mond wou oopmaak, sê Gállio vir die Jode: As daar nou enige oortreding of kwaadwillige skelmstuk was, dan sou ek rede hê om julle te verdra, o Jode;
15 maar as dit 'n geskil is oor 'n woord en oor name en oor 'n wet wat vir julle geld, moet julle toesien, want daaroor wil ek geen regter wees nie.
16En hy het hulle van die regterstoel weggedryf.
17En al die Grieke het Sósthenes, die hoof van die sinagoge, gegryp en hom voor die regterstoel geslaan; en Gállio het hom aan niks van hierdie dinge gesteur nie.
18En nadat Paulus nog verskeie dae daar gebly het, het hy van die broeders afskeid geneem en na Sírië uitgeseil, en saam met hom Priscílla en Áquila. En in Kenchréë het hy sy hoof geskeer, want hy het 'n gelofte gedoen.
19En hy het in Éfese aangekom en hulle daar laat bly, maar self in die sinagoge gegaan en met die Jode gespreek.
20En toe hulle versoek dat hy langer by hulle moes vertoef, het hy nie toegestem nie,
21maar van hulle afskeid geneem en gesê: Ek moet sekerlik die komende fees in Jerusalem vier, maar ek sal weer na julle terugkom as God wil. En hy het van Éfese afgevaar.
22En toe hy in Cesaréa gekom het en opgegaan en die gemeente gegroet het, het hy afgereis na Antiochíë.
23En nadat hy 'n tyd lank vertoef het, het hy vertrek en agtereenvolgens die land Galásië en Frígië deurgereis en al die dissipels versterk.
Apollos in Éfese en Korinthe.
24EN 'n sekere Jood met die naam van Apollos, wat in Alexandríë gebore was, 'n welsprekende man, het in Éfese aangekom; en hy was magtig in die Skrifte.
25Hy het onderrig ontvang in die weg van die Here; en vurig van gees, het hy gespreek en die dinge aangaande die Here noukeurig geleer, alhoewel hy net van die doop van Johannes geweet het.
26En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Áquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.
27En toe hy wou deurgaan na Acháje, het die broeders hom aangemoedig en aan die dissipels geskrywe om hom te ontvang. En daar aangekom, was hy deur die genade die gelowiges tot veel nut;
28want hy het die Jode kragtig in die openbaar weerlê en deur die Skrifte bewys dat Jesus die Christus is.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid