Titus 3

3
Optrede van gelowiges in die samelewing
1Herinner hulle daaraan om aan die owerheid en alle gesag onderdanig te wees, om gehoorsaam te wees en bereid tot elke goeie werk, 2niemand te belaster nie, om nie bakleierig te wees nie, maar vriendelik, en om ware sagmoedigheid te betoon aan alle mense. 3Want ons was ook voorheen onverstandig, ongehoorsaam, verdwaal, verslaaf aan allerlei begeertes en luste. Ons het in kwaadwilligheid en naywer geleef, ons was haatlik en het mekaar gehaat.
4Maar toe die goedheid
en menseliefde van God,
ons Verlosser, verskyn,
5het Hy ons verlos –
nie op grond van werke
wat ons uit •geregtigheid gedoen het nie,
maar op grond van sy ontferming –
by wyse van die afwassing
deur die weergeboorte
en vernuwing deur die Heilige Gees,
6 wat Hy ryklik oor ons uitgegiet het
deur Jesus •Christus, ons Verlosser.
7So het ons,
geregverdig deur sy genade,
erfgename geword
van die ewige lewe
waarop ons hoop.
8Dié uitspraak is betroubaar. Ek wil hê dat jy hierdie dinge moet benadruk, sodat hulle wat in God glo, daarop bedag sal wees om hulle aan goeie werke toe te wy. Hierdie dinge is goed en voordelig vir die mense. 9 Vermy egter onsinnige dispute en geslagsregisters en stryery en haarklowery oor die wet, want dit is nutteloos en sinloos. 10 As iemand verdeeldheid saai, wys hom ná 'n eerste en tweede vermaning weg, 11omdat jy weet dat so 'n persoon op 'n verkeerde pad is en sonde doen; hy veroordeel homself.
Laaste opdragte en groete
12Wanneer ek Artemas of Tigikus na jou stuur, haas jou om na my te kom in Nikopolis, want ek het besluit om daar te oorwinter. 13Help ook vir Senas, die regsgeleerde, en vir Apollos, na die beste van jou vermoë, vooruit op hulle reis, sodat hulle niks kortkom nie. 14Ons mense moet ook leer om hulle met goeie werke besig te hou, vir die voorsiening van noodsaaklike behoeftes, sodat hulle lewe nie vrugteloos sal wees nie.
15Almal by my stuur vir jou groete. Groet hulle wat vir ons in die geloof liefhet.
Seëngroet
Die genade bly met julle almal!

Tans Gekies:

Titus 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid