Hooglied 3

3
1Die hele nag op my bed hunker ek
na die geliefde van my hart.
Ek het na hom gesoek,
maar hom nie gevind nie.
2Laat ek nou opstaan
en die stad deurkruis,
op die strate en pleine
na die liefde van my hart soek.
Ek het hom gesoek,
maar hom nie gevind nie.
3 Die wagte, op hulle rondtes
deur die stad, het my gevind.
“Die geliefde van my hart,
het julle hom gesien?”
4 Pas nadat ek by hulle verby is,
vind ek die geliefde van my hart!
Ek gryp hom vas en laat hom
nie weer gaan nie,
tot ek hom na my moeder
se huis gebring het,
na die kamer van haar
wat met my swanger was.
5 Meisies van Jerusalem,
ek besweer julle
by die ribbok- en takbokooie
van die veld:
Moenie die liefde aanwakker nie,
moet dit nie opwek nie,
voordat dit nie self wil ontwaak nie.
Koor:
6Wat kom daar aan uit die woestyn
soos suile rook,
omhul van mirre en wierook,
van al die beste speserye
van die handelaar?
7 Kyk, dit is Salomo se drastoel,
omring deur sestig dapper manne,
van die dapperstes in Israel,
8 almal bedrewe met die swaard,
ervare krygers,
elkeen met sy swaard op sy heup,
bedag op nagtelike gevare.
9Koning Salomo het vir hom
'n drastoel gemaak
van hout uit die Libanon.
10Die style het hy van silwer gemaak,
die dak van goud,
die sitplek van purperstof,
die binnekant is uitgevoer
met leer.
Meisies van Jerusalem,
11 kom uit!
Meisies van Sion,
kom kyk na koning Salomo,
na die kroon waarmee
sy moeder hom gekroon het,
op sy troudag, op die dag toe
sy hart oorstelp van vreugde was.

Tans Gekies:

Hooglied 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid