Openbaring 21

21
'n Nuwe hemel en 'n nuwe aarde
1Toe het ek 'n nuwe hemel en 'n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het tot niet gegaan, en die see bestaan nie meer nie. 2En ek het die heilige stad, die Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal. Sy is gereedgemaak, soos 'n bruid wat versier is vir haar man. 3Ek het toe 'n harde stem van die troon af hoor sê:
“Kyk, God se woonplek is by die mense.
En Hy sal by hulle woon;
hulle sal sy volke wees,
en God self sal by hulle wees as hulle God.
4Hy sal elke traan uit hulle oë afdroog.
En die dood sal nie meer daar wees nie;
ook nie rou of 'n gehuil of pyn
sal meer bestaan nie;
want die eerste dinge het verbygegaan.”
5Hy wat op die troon sit, het gesê: “Kyk, Ek maak alles nuut. ” En Hy het ook gesê: “Skryf neer dat hierdie woorde betroubaar en waar is.” 6Verder het Hy vir my gesê: “Dit is afgehandel! Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Dié wat dors is, sal Ek laat drink uit die fontein van lewegewende water – verniet! 7Wie oorwin, sal hierdie dinge beërf, en Ek sal sy God wees, en hy sal my seun wees. 8Maar vir die lafhartiges, ongelowiges, losbandiges, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en al die leuenaars – hulle deel is die brandende poel van vuur en swael; dit is die tweede dood.”
Die Nuwe Jerusalem
9Daarop het een van die sewe engele wat die sewe bakke vol van die sewe laaste plae vashou, gekom en met my gepraat en gesê: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid wys, die vrou van die Lam.” 10Hy het my toe deur die Gees na 'n groot en hoë berg geneem, en aan my die heilige stad Jerusalem gewys wat van God uit die hemel neergedaal het. 11 Die stad was vol van die heerlikheid van God – haar glans het net soos dié van 'n baie kosbare edelsteen gelyk, soos kristalhelder •jaspis. 12 Die stad het ook 'n groot en hoë muur met twaalf poorte, en by die poorte is daar twaalf engele. Op die poorte is name gegraveer, die name van die twaalf stamme van die kinders van Israel. 13Aan die oostekant is daar drie poorte, aan die noordekant drie, aan die suidekant drie en aan die westekant drie. 14Die stadsmuur het twaalf fondamente, en daarop is ook twaalf name. Dit is die name van die twaalf •apostels van die Lam.
15Die engel wat met my gepraat het, het 'n goue meetstok gehad om daarmee die stad, haar poorte en haar muur te meet. 16 Die stad is vierkantig uitgelê, haar lengte is dieselfde as haar breedte. Hy het toe die stad met die meetstok gemeet, twaalfduisend stadion – die lengte, breedte en die hoogte daarvan is dieselfde. 17Hy het ook die muur van die stad gemeet – honderd vier-en-veertig el hoog in mensemaat, wat ook die engelemaat is. 18Die boumateriaal van die muur was jaspis, en dié van die stad suiwer goud, so blink soos 'n skoon spieël. 19Die fondamente van die stadsmuur is met elke soort edelsteen versier:
die eerste fondament met •jaspis,
die tweede met •lasuursteen,
die derde met •chalcedoon,
die vierde met •smarag,
20die vyfde met •sardoniks,
die sesde met •karneool,
die sewende met •chrisoliet,
die agtste met •berilsteen,
die negende met •topaas,
die tiende met •chrisopraas,
die elfde met •hiasint
en die twaalfde met •ametis.
21En die twaalf poorte is twaalf pêrels. Elkeen van die poorte is uit een pêrel gemaak. Die hoofstraat van die stad is van suiwer goud, so blink soos deurskynende glas.
22 'n Tempel het ek egter nie in haar gesien nie, want die Here God, die Almagtige, en die Lam is haar tempel. 23Ook het die stad nie die son en die maan nodig om haar te verlig nie, want die heerlikheid van God het haar verlig, en die Lam is haar lamp. 24En die nasies sal leef in haar lig, en die konings van die aarde sal hulle heerlikheid na haar toe bring. 25 Haar poorte sal bedags nie gesluit word nie, en daar sal ook nie meer nag wees nie. 26 Hulle sal die heerlikheid en die eer van die nasies na haar toe bring. 27En niks wat besoedel is, en niemand wat iets gruweliks en vals gedoen het, sal ooit toegang tot haar kry nie, slegs hulle wat opgeteken is in die boekrol van die lewe van die Lam.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid