Openbaring 19

19
Halleluja in die hemel
1Hierna het ek 'n harde klank gehoor, soos 'n groot skare, wat in die hemel jubel:
“Halleluja!
Die verlossing, die heerlikheid
en die krag behoort aan ons God!
2Waar en regverdig is sy oordele,
want Hy het die groot prostituut veroordeel,
sy wat die aarde met haar hoerery verlei het,
en Hy het die bloed van sy diensknegte
wat deur haar hand omgekom het, gewreek. ”
3'n Tweede keer het hulle uitgeroep:
“Halleluja!
Haar rook styg op, vir ewig en ewig. ”
4Die vier-en-twintig ouderlinge en die vier lewende wesens het neergeval, en God wat op die troon sit, aanbid en gesê:
“•Amen! Halleluja!”
Bruilofsfees van die Lam
5En 'n stem het vanaf die troon gekom wat sê:
“Loof ons God,
julle wat vir Hom ontsag het,
al sy diensknegte –
geringes en magtiges. ”
6En ek het iets gehoor soos die klank van 'n groot skare, en soos die klank van baie waters, en soos die klank van swaar donderslae wat uitroep:
“Halleluja!
Die Here, ons God, die Almagtige,
het sy koningskap opgeneem.
7Laat ons bly wees en jubel,
en aan Hom die heerlikheid gee,
want die •bruilofsfees van die Lam
het aangebreek,
en sy bruid het haar gereedgemaak.
8En sy is toegelaat om blink klere
van suiwer, fyn linne aan te trek.
Want dié linne is die regverdige dade van die heiliges. ”
9Toe sê die engel vir my:
“Skryf dit neer:
‘Gelukkig is hulle wat uitgenooi is
na die bruilofsfees van die Lam.’ ”
Hy het ook vir my gesê: “Hierdie woorde van God is waar.” 10 En ek het voor sy voete neergeval om hom te aanbid. Maar hy sê vir my: “Moet dit nie doen nie! Ek is net 'n mededienskneg saam met jou en jou broers wat die getuienis oor Jesus huldig. Aanbid God, want die getuienis oor Jesus is die gees van die profesie. ”
Ruiter op die wit perd
11Toe het ek gesien dat die hemel geopen is. En kyk, daar was 'n wit perd! Hy wat daarop sit, word getrou en waar genoem, en met regverdigheid oordeel Hy en voer Hy oorlog. 12Sy oë was soos 'n vlammende vuur, en op sy kop was daar baie krone. En Hy dra 'n geskrewe Naam, wat niemand ken nie, behalwe net Hy self. 13Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. 14Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. 15Uit sy mond het 'n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap. 16Op sy klere, by sy heup, is 'n Naam geskryf: “Koning van die konings, en Heerser van die heersers”.
17En ek het een engel in die son sien staan. Hy het met 'n kragtige stem uitgeroep, en aan al die voëls wat hoog in die lug rondvlieg, gesê: “Kom hierheen, trek saam na die groot feesmaal van God, 18om die vleis van die konings en die vleis van die chiliarge te eet, die vleis van magtiges en die vleis van perde en hulle ruiters, die vleis van almal – vry mense sowel as slawe, geringes sowel as magtiges.” 19En ek het gesien dat die dier en die konings van die aarde met hulle leërs saamgetrek het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. 20Die dier is toe gevang, en saam met hom ook die vals profeet, wat in sy teenwoordigheid die tekens gedoen het, waardeur hy die mense mislei het wat die merk van die dier dra en sy beeld aanbid. Hulle twee is lewendig in die vuurpoel met brandende swael gegooi. 21Die res van die mense is doodgemaak met die swaard wat gekom het uit die mond van die Een wat op die perd sit. En al die voëls het hulle versadig gevreet aan hulle vleis.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid