Spreuke 24

24
1 Moenie slegte mense beny nie,
en begeer nie
om by hulle te wees nie;
2want hulle harte oorpeins
verwoesting,
en hulle lippe praat
oor die aanrig van skade.
3 Deur wysheid
word 'n huis gebou,
en deur verstandigheid
word dit gevestig.
4Deur kennis word kamers gevul
met allerlei kosbare
en lieflike dinge.
5 'n Wyse man het mag,
en 'n man met kennis
maak krag meer doeltreffend.
6Want deur goeie leierskap
kan jy oorlog voer,
en oorwinning kom
deur baie raadgewers.
7 Wysheid is onbereikbaar vir 'n sot;
in die stadspoort maak hy sy mond
nie oop nie.
8 Wie planne beraam
om kwaad te doen,
word 'n aartsknoeier genoem.
9'n Sotlike plan is sonde,
en 'n spotter is vir 'n mens afstootlik.
10 Gedra jy jou lafhartig
in 'n tyd van nood,
dan is jou krag beperk.
11 Red hulle wat weggeneem word
na die dood,
dié wat na die slagplek strompel –
moenie terughou nie!
12As jy sê,
‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’
sal Hy wat harte beoordeel,
sal Hy nie daaraan aandag
gee nie?
En Hy wat jou lewe beskerm,
sal Hy dit nie weet nie?
Hy sal 'n mens vergeld
ooreenkomstig sy dade.
13 My seun, eet heuning,
want dit is goed,
en heuningkoek is soet in jou mond.
14Besef dan,
só is wysheid vir jou lewe –
as jy dit vind, is daar 'n toekoms,
en jou hoop sal nie verydel word nie.
15 Moenie soos 'n goddelose
die tuiste van 'n regverdige
dophou nie;
moenie sy rusplek verwoes nie.
16Want 'n regverdige
sal sewe keer val en opstaan,
maar goddeloses
kom tot 'n val deur teenspoed.
17 Wanneer jou vyand val,
moet jou nie verheug nie;
wanneer hy tot 'n val kom,
laat jou hart nie jubel nie.
18Anders sien die Here dit,
en is dit verkeerd in sy oë;
dalk wend Hy sy toorn van hom af.
19 Moet jou nie ontstel
oor kwaaddoeners nie;
moet goddeloses nie beny nie.
20Want daar is nie 'n toekoms
vir slegte mense nie;
die lamp van goddeloses
word uitgedoof.
21 Jy moet ontsag hê vir die Here
my seun, en vir die koning;
met hulle wat andersgesind is,
moet jy jou nie inlaat nie.
22Want onverwags
tref teenspoed hulle,
en wie weet watter ramp die Here
en die koning kan bring?
Ander spreuke van wyses
23 Ook hierdie spreuke is van die wyses:
Om partydig te wees in regspraak
is nie goed nie.
24Wie vir 'n goddelose sê,
“Jy is regverdig” –
volke sal hom vervloek,
nasies sal hom verdoem.
25Maar dit gaan goed met dié
wat 'n goddelose skuldig vind;
oor hulle kom die seën van voorspoed.
26Wie eerlike antwoorde gee,
is soos 'n soen op die lippe.
27 Doen jou werk buite bestendig,
en handel jou werk op jou land af;
bou dan daarna jou huis.
28 Moenie sonder gronde as getuie
optree teen jou medemens nie!
Sal jy met jou lippe mislei?
29Moet dít nie sê nie:
“Soos hy aan my gedoen het,
sal ek aan hom doen;
ek gaan die man vergeld
ooreenkomstig sy optrede.”
30 By die land van 'n lui mens
het ek verbygeloop,
en by die wingerd van 'n mens
sonder verstand.
31Kyk, dit was heeltemal
toegegroei onder brandnetels,
die grond was oortrek met onkruid,
en sy klipmuur was afgebreek.
32Ek het dit bekyk
en ter harte geneem;
ek het dit gesien
en as 'n vermaning aanvaar:
33 'n Bietjie slaap, 'n bietjie insluimer,
'n bietjie hande vou om te rus;
34dan kom, soos 'n rondloper,
jou armoede daar aan,
jou gebrek soos 'n skaamtelose man.

Tans Gekies:

Spreuke 24: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid