Spreuke 21

21
1 Die koning se hart is waterstrome
in die hand van die Here:
Hy lei dit waarheen Hy wil.
2 Elke pad van 'n mens
is reg in sy eie oë,
maar die Here toets harte.
3 Om te doen wat reg en billik is,
is vir die Here verkieslik bo offers.
4 Hoogmoedige oë
en 'n verwaande hart
– die lamp van goddeloses –
is sonde.
5 Die planne van 'n vlytige
strek net tot voordeel,
maar elkeen wat oorhaastig is,
ervaar net gebrek.
6 Die verkryging van skatte
deur 'n vals tong
is 'n vlugtige damp –
dit is strikke van die dood.
7 Die gewelddade van goddeloses
sleep hulle weg,
want hulle weier om te doen
wat reg is.
8 Verdraaid is die pad
van 'n oneerlike man,
maar 'n onbevlekte –
sy optrede is reg.
9 Om op die hoek van 'n dak
te woon,
is beter as om 'n huis te deel
met 'n bakleierige vrou.
10 Die sielsbegeerte
van 'n goddelose is boosheid;
in sy oë mag geen genade
betoon word aan sy medemens nie.
11 Wanneer mens 'n spotter beboet,
word 'n onkundige wys;
en as mens 'n wyse onderrig,
aanvaar hy kennis.
12Die Regverdige hou 'n goddelose
se huis dop;
Hy stort goddeloses in die ongeluk.
13 Wie sy ore sluit vir die hulpkreet
van 'n arme,
sal self ook roep
en nie geantwoord word nie.
14 'n Geskenk in die geheim
laat toorn bedaar,
en 'n omkoopgeskenk
uit die vou van 'n kleed,
heftige woede.
15 Dit is 'n vreugde
vir die regverdige
wanneer reg geskied,
maar 'n verskrikking
vir boosdoeners.
16 'n Mens wat afdwaal van die pad
wat begrip kweek,
sal in die samekoms
van skimme tot rus kom.
17 Wie van plesier hou,
se voorland is gebrek;
wie van wyn en salfolie hou,
sal nie ryk word nie.
18 'n Goddelose word 'n losprys
vir die regverdige,
en 'n verraderlike mens
neem die plek in van opregtes.
19 Om in 'n woestyn te woon,
is beter as by 'n vrou
wat gedurig kyf en 'n ergernis is.
20 'n Kosbare skat en olie
is in die tuiste van 'n wyse,
maar 'n dwase mens verslind syne.
21 Wie geregtigheid en troue liefde
najaag, vind lewe,
geregtigheid en eer.
22 'n Wyse kan optrek
teen 'n stad met helde,
en die versterkings laat tuimel
waarop die stad vertrou.
23 Wie sy mond en tong bewaar,
bewaar sy lewe van benoudhede.
24 'n Vermetele, aanmatigende mens
– Spotter is sy naam –
tree met matelose verwaandheid op.
25 Die begeerte van 'n luiaard
sal hom sy dood kos,
want sy hande weier om iets te doen.
26 Die hele dag sal hy brand
van begeerte,
terwyl 'n regverdige sal gee
en nie terughou nie.
27 Die offer van goddeloses
is afstootlik,
hoeveel te meer as dit gebring word
met 'n slinkse bedoeling!
28 'n Leuenagtige getuie
gaan ten gronde,
maar iemand wat luister,
mag altyd praat.
29 'n Goddelose
sit 'n brutale gesig op,
maar 'n opregte,
hy slaan ag op wat hy doen.
30 Geen wysheid,
geen verstandigheid,
ja, geen raad hou stand
teen die Here nie.
31 'n Perd kan afgerig word
vir die dag van 'n geveg,
maar die oorwinning is van die Here.

Tans Gekies:

Spreuke 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid