Spreuke 1

1
Lewenswysheid
1 Die Spreuke van Salomo, seun van Dawid, die koning van Israel:
2om vertroud te raak
met wysheid en vermaning,
om woorde van insig te verstaan;
3om vermaning wat begrip kweek,
te ontvang,
begrip vir wat regverdig
en billik en reg is;
4 om onkundiges vernuf aan te leer,
jongmense kennis en goeie oordeel
5– 'n wyse sal luister
en geleerdheid vermeerder,
en 'n verstandige
sal leierskap verwerf –
6om 'n spreuk en 'n gesegde
te begryp,
die woorde van wyses
en hulle raaisels.
7 Ontsag vir die Here
is die begin van kennis;
wysheid en vermaning –
net sotte verag dit.
8 My seun, luister na die
vermaning van jou vader,
en moenie die onderrig van jou
moeder verontagsaam nie;
9want dit is 'n bekoorlike krans
vir jou kop,
en halssnoere vir jou nek.
10My seun, as sondaars jou wil verlei,
moenie instem nie.
11As hulle sê:
“Gaan saam met ons;
laat ons 'n hinderlaag opstel
vir bloedvergieting;
laat ons 'n onskuldige voorlê
sonder rede;
12 laat ons, soos die •doderyk,
hulle lewend verslind, volledig,
soos dié wat afdaal in die put.
13Allerlei kosbare besittings
sal ons vind;
ons sal ons huise vol maak met buit.
14Deel jou lot met ons;
ons sal almal net een beursie hê.”
15My seun, moenie saam met hulle
op die pad gaan nie,
hou jou voet terug van hulle paaie;
16 want na die kwaad
hardloop hulle voete;
hulle is haastig om bloed te vergiet.
17Ja, tevergeefs
word 'n net uitgesprei,
waar elke voël met vlerke dit sien;
18 maar hierdie manne
stel 'n hinderlaag op
vir hulle eie bloedvergieting;
hulle stel 'n lokval vir hulleself!
19So verloop die lewenspad
van elkeen wat onregverdige wins maak –
dit kos die een wat dit verkry,
sy lewe.
Oproep van die Wysheid
20 Wysheid roep opgewonde
op straat,
op die stadspleine
laat sy haar stem hoor.
21Aan die bopunt
van 'n rumoerige straat
roep sy uit,
by die ingange na die stadspoorte
klink haar woorde op:
22“ Hoe lank nog gaan julle,
onkundiges, onkunde liefhê,
gaan spotters 'n geklets
waardevol ag,
en gaan dwase kennis haat?
23Julle moet reageer
op my teregwysing.
Kyk, ek sal my gees
vir julle laat uitstroom,
ek sal my woorde
aan julle bekend maak.
24 Omdat ek geroep,
maar julle geweier het,
ek my hand uitgesteek,
maar julle geen aandag
gegee het nie,
25julle al my raad
in die wind geslaan het,
my teregwysings
nie aanvaar het nie,
26 sal ek op my beurt
lag oor julle teenspoed,
die spot dryf wanneer julle
verskrikking kom,
27wanneer julle verskrikking kom
soos 'n stormwind,
en julle teenspoed losbreek
soos 'n orkaan,
wanneer benoudheid en angs
julle oorval.
28“ Dan sal hulle na my roep,
maar ek sal nie antwoord nie;
hulle sal my soek,
maar my nie vind nie.
29 Aangesien hulle kennis gehaat het,
ontsag vir die Here nie gekies het nie,
30my raad nie aanvaar het nie,
al my teregwysings versmaai het,
31 sal hulle die vrug
van hulle optrede moet eet,
sal hulle genoeg kry
van hulle eie planne.
32Ja, die ongeërgdheid van onverstandiges
kos hulle dood;
die selfversekerdheid van dwase
vernietig hulle.
33 Maar wie na my luister,
sal veilig woon;
hulle sal rustig wees,
sonder die verskrikking van onheil.”

Tans Gekies:

Spreuke 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid