Nehemia 1

1
Nehemia se gebed en sending na Jerusalem
1Die woorde van Nehemia, seun van Gagalja.
Dit het gebeur in die maand Kislef, in die twintigste regeringsjaar, toe ek in die vestingstad Susan was. 2Ganani, een van my broers, het daar aangekom, hy en manne van Juda. Ek het hulle uitgevra oor die Judeërs wat ontkom het – die Judeërs wat die ballingskap oorleef het – en oor Jerusalem. 3Hulle sê toe vir my: “Dié wat nog in die provinsie is en die ballingskap oorleef het, ervaar groot probleme en vernedering. Die muur van Jerusalem is afgebreek en sy stadspoorte is deur vuur verwoes.” 4Toe ek hierdie woorde hoor, het ek gaan sit en huil; ek het dae lank getreur. Ek het aanhou vas en voor die God van die hemel gebid.
5 Ek het gesê: “Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God, wat die verbond en trou handhaaf vir hulle wat Hom liefhet en sy gebooie nakom, 6laat u oor asseblief aandagtig wees, en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u dienskneg wat ek vandag, wat ek dag en nag voor U bid oor die Israeliete, u diensknegte, die gebed waarmee ek die sondes van die Israeliete bely wat ons teen U begaan het. Ook ek en my familie het gesondig. 7Ons het ons uiters sleg gedra teenoor U en nie die gebooie, vaste voorskrifte en bepalings nagekom wat U u dienskneg Moses beveel het nie. 8 Onthou asseblief die woord wat U u dienskneg Moses opgedra het, ‘As julle ontrou is, sal Ek julle verstrooi onder die volke, 9maar as julle na My terugkeer en my gebooie nakom en dit uitvoer – selfs al is julle verstrooi tot aan die einde van die aarde – sal Ek julle daarvandaan bymekaarmaak en na die plek bring wat Ek gekies het om my Naam daar te laat woon. ’ 10 Hulle is tog u dienaars en u volk wat U deur u groot mag en met u sterk hand bevry het. 11Ag my Heer, laat u oor asseblief aandagtig gerig wees op die gebed van u dienskneg en op die gebed van u diensknegte, wat vreugde daarin vind om ontsag vir u Naam te hê. Laat u dienskneg asseblief vandag slaag, en gee dat daar vir hom barmhartigheid sal wees by hierdie man. ”
Ek was in daardie tyd die koning se skinker.

Tans Gekies:

Nehemia 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid