Markus 10

10
Huwelik en egskeiding
(Matt 19:1-12)
1Jesus het gereedgemaak, daarvandaan vertrek en in die gebied van Judea oorkant die Jordaan aangekom. Die skares stroom toe opnuut na Hom toe, en soos Hy gewoond was, het Hy hulle weer onderrig.
2Daar het ook •Fariseërs nader gekom en, om Hom te toets, gevra of dit vir 'n man toelaatbaar is om van sy vrou te skei. 3Hy het hulle geantwoord: “Wat het Moses julle beveel?” 4Hulle antwoord toe: “Moses het 'n man toegelaat om 'n skeibrief te skryf en te skei. ” 5Toe sê Jesus vir hulle: “Dit is weens julle harde harte dat hy hierdie reël vir julle neergelê het; 6 ‘maar van die begin van die skepping af het God hulle manlik en vroulik gemaak’. 7Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en aan sy vrou verbind word, 8en die twee sal een liggaam wees, sodat hulle nie meer twee is nie, maar een. 9Daarom, wat God saamgevoeg het, moet 'n mens nie skei nie.”
10Terug in die huis het die dissipels Hom hieroor uitgevra. 11Hy antwoord hulle toe: “Wie van sy vrou skei en met 'n ander vrou trou, pleeg egbreuk teenoor haar; 12en as sy van haar man skei en met 'n ander man trou, pleeg sy egbreuk.”
Kindertjies geseën
(Matt 19:13-15; Luk 18:15-17)
13Hulle het kindertjies na Jesus gebring sodat Hy hulle kon aanraak, maar die dissipels het hulle berispe. 14Toe Jesus dit sien, was Hy verontwaardig en het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. 15 •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.” 16Hy neem hulle toe in sy arms en seën hulle terwyl Hy sy hande op hulle lê.
Die ryk man
(Matt 19:16-30; Luk 18:18-30)
17Toe Hy uitgaan om sy reis te hervat, hardloop daar iemand na Hom toe, kniel voor Hom en vra Hom: “Goeie Meester, wat moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan erf?” 18Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! 19Jy ken die gebooie, ‘Jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en jou moeder.’ ” 20Maar hy antwoord Hom: “Meester, al hierdie dinge het ek van jongs af nagekom.” 21Jesus het stip na hom gekyk, hom liefgekry en vir hom gesê: “Een ding kom jy kort – gaan verkoop alles wat jy het en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemel hê. En jy, kom hier, volg My.” 22Maar hy het terneergedruk geword oor hierdie antwoord en bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad.
23Jesus het toe om Hom rondgekyk en vir sy dissipels gesê: “Hoe moeilik sal hulle wat rykdom het, in die •koninkryk van God ingaan!” 24Die dissipels was verbysterd oor sy woorde. Jesus sê toe weer vir hulle: “Kinders, hoe moeilik is dit tog om in die koninkryk van God in te gaan! 25Dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” 26Die dissipels was heeltemal uit die veld geslaan en het vir mekaar gesê: “Wie kan dan gered word?” 27Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik. ”
28•Petrus het vir Hom gesê: “Kyk, óns het alles agtergelaat en U gevolg.” 29Jesus het geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, huis, broers of susters, moeder, vader of kinders of grond ter wille van My en ter wille van die evangelie agterlaat, 30en nie nou in hierdie tyd honderd maal soveel sal ontvang nie: huise, broers en susters, ma's en kinders, en grond – en vervolgings daarmee saam – en in die bedeling wat kom, die ewige lewe. 31 Maar baie wat eerste is, sal laaste wees en wat laaste is, eerste.”
Derde lydensaankondiging
(Matt 20:17-19; Luk 18:31-34)
32Terwyl hulle op pad was om na Jerusalem op te gaan, het Jesus voor hulle uit geloop. Die dissipels was verbaas, en dié wat hulle gevolg het, was bang. Hy het die twaalf weer opsy geneem en begin om hulle te vertel van die dinge wat met Hom gaan gebeur. 33 “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en die •Seun van die Mens sal aan die leierpriesters en skrifkenners oorgelewer word, en hulle sal Hom ter dood veroordeel en aan die heidene oorlewer. 34 Hulle sal Hom bespot, op Hom spoeg, Hom gesel en doodmaak, maar ná drie dae sal Hy opstaan.”
Versoek oor Jakobus en Johannes
(Matt 20:20-28)
35Jakobus en Johannes, die seuns van Sebedeus, het na Hom gekom en gevra: “Meester, ons wil hê dat wat ons ook al van U vra, U vir ons moet doen.” 36Jesus vra hulle: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 37Hulle antwoord Hom: “Beskik dat, in u heerlikheid, een van ons aan u regterhand en een aan u linkerhand mag sit.” 38Maar Jesus antwoord hulle: “Julle besef nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek drink of met die doop gedoop word waarmee Ek gedoop word? ” 39Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” Jesus sê toe vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink, en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word. 40Maar om aan my regterhand of linkerhand te sit, is nie vir My om te beskik nie, maar dit is vir hulle vir wie dit voorberei is.”
41Toe die tien dit hoor, het hulle verontwaardig geword oor Jakobus en Johannes. 42 Jesus het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat hulle wat as heersers oor die nasies beskou word, oor hulle baasspeel en dat hulle maghebbers oor hulle gesag uitoefen. 43So is dit egter nie by julle nie; maar wie belangrik onder julle wil wees, moet julle dienaar wees, 44en wie eerste onder julle wil wees, moet almal se slaaf wees. 45 Want ook die •Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie.”
Genesing van die blinde Bartimeus
(Matt 20:29-34; Luk 18:35-43)
46Hulle het in Jerigo aangekom. En toe Hy met sy dissipels en 'n groot skare uit Jerigo vertrek, het 'n blinde bedelaar, Bartimeus, die seun van Timeus, langs die pad gesit. 47Toe hy hoor dat dit Jesus van Nasaret is, begin hy uitroep: “•Seun van Dawid, Jesus, ontferm U oor my!” 48Baie mense het hom berispend aangesê om stil te bly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 49Jesus het gaan staan en gesê: “Roep hom!” Hulle roep toe die blinde man en sê vir hom: “Hou moed! Staan op! Hy roep jou.” 50Hy gooi toe sy bokleed af, spring op en kom na Jesus toe. 51Jesus vra hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde man antwoord Hom: “Rabboeni, dat ek kan sien. ” 52Jesus sê toe vir hom: “Gaan! Jou geloof het jou gered. ” En dadelik kon hy sien, en hy het Hom op sy pad gevolg.

Tans Gekies:

Markus 10: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid