Matteus 26

26
Sameswering teen Jesus
(Mark 14:1-2; Luk 22:1-2; Joh 11:47-53)
1Toe Jesus al sy redevoerings voltooi het, het Hy vir sy dissipels gesê: 2“Julle is bewus daarvan dat die Pasga oor twee dae plaasvind, en dat die •Seun van die Mens oorgelewer gaan word om gekruisig te word. ” 3In daardie tyd het die leierpriesters en die familiehoofde van die volk in die ampswoning van die hoëpriester, met die naam Kajafas, vergader. 4Hulle het saam planne beraam om Jesus op 'n slinkse manier gevange te neem en dood te maak. 5Hulle het egter gesê: “Nie tydens die fees nie, sodat daar nie 'n oproer onder die volk ontstaan nie.”
Salwing in Betanië
(Mark 14:3-9; Joh 12:1-8)
6Toe Jesus in Betanië in die huis van Simon die Melaatse was, 7 het 'n vrou na Hom gekom met 'n albasterfles baie kosbare reukolie, en dit oor sy kop uitgegiet terwyl Hy vir ete aangeleun het. 8Toe die dissipels dit sien, was hulle verontwaardig en vra: “Waarom hierdie verkwisting? 9'n Mens kon dit vir baie geld verkoop het, wat aan die armes gegee kon word.” 10Toe Jesus dit merk, sê Hy vir hulle: “Waarom maak julle dit vir haar moeilik? Sy het immers 'n goeie daad aan My gedoen. 11Die armes het julle altyd by julle, maar vir My het julle nie altyd nie. 12Toe sy hierdie reukolie oor my liggaam uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my begrafnis. 13•Amen, Ek sê vir julle: Waar in die hele wêreld ook al hierdie evangelie verkondig word, sal daar, ter herinnering aan haar, vertel word van wat sy gedoen het.”
Judas se plan vir verraad
(Mark 14:10-11; Luk 22:3-6)
14Toe het een van die twaalf, met die naam Judas Iskariot, na die leierpriesters gegaan 15en gesê: “Wat is u bereid om my te betaal as ek Hom aan u oorlewer?” Hulle het met hom op dertig silwerstukke ooreengekom. 16Van toe af het hy 'n gepaste geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.
Pasga
(Mark 14:12-25; Luk 22:7-14,21-23; Joh 13:21-26)
17Op die eerste dag van die Fees van die Ongesuurde Brood het die dissipels na Jesus gekom en gevra: “Waar wil U hê moet ons vir U voorbereidings tref om die Pasga te eet?” 18Hy het gesê: “Gaan in die stad na 'n sekere persoon en sê vir hom, ‘Die Leermeester sê: My tyd is naby – Ek wil die Pasga met my dissipels by jou vier.’ ” 19Die dissipels het gemaak soos Jesus hulle beveel het, en die Pasga voorberei. 20Teen die aand het Hy saam met die twaalf vir ete aangeleun. 21Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” 22Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?” 23Hy het geantwoord: “Die een wat saam met My sy hand in die skottel insteek, hy sal My verraai. 24Die •Seun van die Mens gaan wel heen, soos daar oor Hom geskryf staan, maar wee daardie man deur wie die Seun van die Mens verraai word. Dit sou vir hom beter gewees het as hy nooit gebore was nie.” 25Judas, sy verraaier, sê toe daarop: “Dit is seker nie ek nie, Rabbi?” Hy antwoord hom: “Jý het dit gesê.”
Instelling van die Nagmaal
(Mark 14:22-26; Luk 22:18-20; 1 Kor 11:23-25)
26Terwyl hulle eet, het Jesus brood geneem, en nadat Hy die seëngebed uitgespreek het, breek Hy dit, gee dit vir die dissipels en sê: “Neem, eet, dit is my liggaam.” 27Toe het Hy die beker geneem, gedank, dit vir hulle gegee en gesê: “Drink almal daaruit, 28want dit is my bloed, die bloed van die verbond wat vir baie uitgegiet word tot vergewing van sondes. 29Ek sê vir julle: Van nou af sal Ek beslis nie weer van hierdie vrug van die druiwestok drink nie, tot daardie dag wanneer Ek dit nuut saam met julle sal drink in die •koninkryk van my Vader.” 30Nadat hulle die lofsang gesing het, het hulle na die Olyfberg vertrek.
Waarskuwing aan Petrus
(Mark 14:27-31; Luk 22:31-34; Joh 13:36-38)
31Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf,
“ ‘Ek sal die herder neervel,
en die skape van die kudde
sal uitmekaar gejaag word.’
32 “Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.” 33•Petrus het egter vir Hom gesê: “Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.” 34Jesus het hom geantwoord: “•Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor 'n haan kraai, drie maal verloën. ” 35Petrus sê toe vir Hom: “Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!” Al die dissipels het dieselfde gesê.
Jesus in Getsemane
(Mark 14:32-42; Luk 22:39-46)
36Toe gaan Jesus saam met hulle na 'n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” 37Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. 38Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” 39 Hy het toe 'n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” 40Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? 41Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” 42Hy het vir 'n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” 43Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. 44Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. 45Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. 46Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.”
Jesus gevange geneem
(Mark 14:43-50; Luk 22:47-53; Joh 18:3-11)
47Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar 'n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. 48Sy verraaier het vir hulle 'n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” 49Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. 50Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. 51 En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. 52Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. 53Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? 54Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” 55Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen 'n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. 56Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug.
Jesus voor die Sanhedrin
(Mark 14:53-65; Luk 22:54-55,63-71; Joh 18:13-14,19-24)
57Die mense wat Jesus gevange geneem het, het Hom weggelei na Kajafas, die hoëpriester, waar die skrifkenners en die familiehoofde vergader het. 58•Petrus het Hom op 'n afstand gevolg, tot in die voorhof van die hoëpriester. Hy het na binne gegaan en by die dienspersoneel gaan sit om te sien hoe dit sou afloop. 59Die leierpriesters en die hele Sanhedrin het vals getuienis teen Jesus gesoek, sodat hulle Hom kon doodmaak. 60Hulle kon egter niks vind nie, hoewel baie vals getuies na vore gekom het. Later het twee egter na vore gekom 61en gesê: “Hierdie man het gesê, ‘Ek kan die •tempel van God afbreek en binne drie dae weer opbou.’ ” 62Daarop het die hoëpriester opgestaan en vir Hom gesê: “Antwoord jy dan niks op wat hierdie mense teen jou getuig nie?” 63Maar Jesus het stilgebly. Die hoëpriester sê toe vir Hom: “Ek besweer jou by die lewende God dat jy vir ons moet sê of jy die Christus, die •Seun van God is.” 64Jesus antwoord hom: “Ú het dit gesê. Maar Ek sê vir julle:
“Van nou af sal julle die •Seun van die Mens
sien sit aan die regterhand van die Magtige,
en Hom op die wolke van die hemel sien kom.”
65Toe het die hoëpriester sy boklere geskeur en gesê: “Hy het gelaster! Waarom het ons nog getuies nodig? Waarlik, nou het julle die godslastering gehoor! 66Wat is julle bevinding?” Hulle het geantwoord: “Hy verdien die dood.” 67Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Sommige het Hom geklap 68en gesê: “Profeteer vir ons, o Christus – wie is dit wat u geslaan het?”
Verloëning deur Petrus
(Mark 14:66-72; Luk 22:56-62; Joh 18:15-18,25-27)
69•Petrus het buite gesit, in die binnehof. 'n Sekere diensmeisie het na hom gekom en gesê: “Jy was ook saam met Jesus die Galileër.” 70Hy het dit egter voor almal ontken: “Ek weet nie waarvan jy praat nie.” 71En 'n ander diensmeisie het hom na die poort sien loop, en sê toe vir die mense daar: “Hierdie man was saam met Jesus die Nasarener.” 72Weer het hy dit ontken, met 'n eed: “Ek ken die man nie.” 73Ná 'n rukkie het die omstanders nader gekom en vir Petrus gesê: “Jy is beslis ook een van hulle; trouens, jou uitspraak verklap jou.” 74Daarop begin hy vloek, en sweer: “Ek ken die man nie!” En onmiddellik het 'n haan gekraai. 75Toe het Petrus die woorde onthou wat Jesus gesê het: “Voordat 'n haan kraai, sal jy My drie maal verloën.” En hy het na buite gegaan en bitterlik begin huil.

Tans Gekies:

Matteus 26: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid