Matteus 19:16-30

Matteus 19:16-30 AFR20

En kyk, iemand het na Jesus gekom en gevra: “Meester, watter goeie ding moet ek doen sodat ek die ewige lewe kan verkry?” Hy het hom geantwoord: “Hoekom vra jy My uit oor wat goed is? Daar is net Een wat goed is. As jy die lewe wil binnegaan, moet jy die gebooie nakom. ” Hy vra Hom: “Watter?” Jesus antwoord: “Jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie vals getuig nie, eer jou vader en jou moeder,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself. ” Die jong man sê vir Hom: “Dit alles het ek nagekom – wat kom ek dan nog kort?” Jesus het vir hom gesê: “As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou besittings en gee dit vir die armes, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” Toe die jong man egter hierdie antwoord hoor, het hy bedroef weggegaan, want hy het baie besittings gehad. Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: 'n Ryke sal moeilik in die •koninkryk van die hemele ingaan. Ek sê weer vir julle, dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die •koninkryk van God in te gaan.” Toe die dissipels dit hoor, was hulle heeltemal uit die veld geslaan en het gesê: “Wie kan dan gered word?” Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik. ” Toe vra •Petrus Hom: “Kyk, ons het alles agtergelaat en U gevolg. Wat sal ons dan daarvoor kry?” Jesus het vir hulle gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: In die nuwe bedeling, wanneer die •Seun van die Mens op sy glansryke troon sit, sal julle wat My gevolg het, ook op twaalf trone sit en oor die twaalf stamme van Israel regspreek. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of kinders of grond agterlaat ter wille van my Naam, sal honderd maal soveel ontvang, en die ewige lewe erf. Maar baie wat eerste is, sal laaste wees, en wat laaste is, eerste.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid