Lukas 4

4
Versoeking van Jesus
(Matt 4:1-11; Mark 1:12-13)
1Vol van die Heilige Gees, het Jesus van die Jordaan teruggekeer en is deur die Gees in die woestyn gelei, 2waar Hy veertig dae lank deur die Duiwel versoek is. Die hele tyd het Hy niks geëet nie, en aan die einde van die tyd was Hy honger.
3Die Duiwel het vir Hom gesê: “As u die •Seun van God is, sê vir hierdie klip dit moet brood word.” 4Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf,
‘Van brood alleen
sal die mens nie leef nie.’ ”
5Hierop het die Duiwel Hom na 'n hoë plek geneem, en in 'n oogwink vir Hom al die koninkryke van die wêreld gewys, 6en die Duiwel sê vir Hom: “Ek sal u al hierdie mag gee en hulle prag, want dit is aan my gegee , en ek gee dit aan wie ek wil. 7As u my aanbid, sal dit alles u s'n wees.” 8Maar Jesus antwoord hom: “Daar staan geskryf,
‘Die Here jou God moet jy aanbid
en Hom alleen dien.’ ”
9En die Duiwel het Hom na Jerusalem geneem, en Hom op die hoogste punt van die tempelgeboue laat staan. Toe sê hy vir Hom: “As u die Seun van God is, spring hier af! 10Daar staan immers geskryf,
“ ‘Hy sal sy engele opdrag oor jou gee
om jou te beskerm,’
11en ook,
“ ‘Op hulle hande sal hulle jou dra,
sodat jy nie dalk teen 'n klip jou voet stamp nie.’ ”
12Maar Jesus antwoord hom: “Die Skrif sê ook, ‘Jy mag die Here jou God nie versoek nie.’ ” 13Die Duiwel het, nadat hy met al hierdie versoekings klaar was, vir 'n tyd lank van Jesus weggebly.
Begin van Jesus se verkondiging
(Matt 4:12-17; Mark 1:14-15; Joh 4:1-3,43-46)
14Vol van die krag van die Gees, het Jesus na Galilea teruggegaan, en die nuus oor Hom het deur die hele omgewing versprei. 15Hy het die mense in hulle •sinagoges geleer, en almal het met lof van Hom gepraat.
Jesus se preek in Nasaret
(Matt 13:53-58; Mark 6:1-6)
16Toe Jesus in Nasaret kom, waar Hy grootgeword het, het Hy op die Sabbat na die •sinagoge gegaan, soos sy gewoonte was. Toe Hy opstaan om voor te lees, 17is die boekrol van die profeet Jesaja vir Hom aangegee, en Hy het dit oopgerol en die plek gevind waar geskryf staan:
18 “Die Gees van die Here is op My,
omdat Hy My gesalf het
om die goeie boodskap
aan arm mense te verkondig.
Hy het My gestuur om vir gevangenes aan te kondig dat hulle vrygelaat sal word,
en vir blindes dat hulle weer sal sien,
om onderdruktes te bevry,
19en om die genadejaar van die Here aan te kondig.”
20Hierna het Jesus die boekrol opgerol, dit aan die amptenaar teruggegee en gaan sit. Almal in die sinagoge se oë was stip op Hom gerig. 21Toe het Hy met hulle begin praat: “Hierdie gedeelte uit die Skrif is vandag vervul terwyl julle daarna geluister het.”
22Almal het hulle instemming met Hom betuig, en was verwonderd oor die woorde vol genade wat uit sy mond gevloei het. En hulle het gesê: “Is Hy dan nie die seun van Josef nie?”
23Toe sê Jesus vir hulle: “Julle sal seker die spreekwoord aan My wil voorhou, ‘Geneesheer, genees jouself. Ons het gehoor wat alles in Kapernaum gebeur het. Doen daardie dinge nou ook hier in jou tuisdorp.’ ” 24En Hy het gesê: “•Amen, Ek sê vir julle: Geen profeet is welkom in sy tuisdorp nie. 25Wat Ek vir julle sê, is die waarheid: In Elia se tyd, toe die hemel vir drie jaar en ses maande gesluit gebly en 'n groot hongersnood in die land geheers het, was daar baie weduwees in Israel. 26Tog is Elia nie na een van hulle gestuur nie, maar wel na 'n weduwee in Sarfat, in die omgewing van Sidon. 27 Daar was ook in die tyd van die profeet Elisa baie melaatses in Israel. Tog is nie één van hulle gereinig nie, maar wel Naäman, die Siriër.”
28Toe hulle hierdie dinge hoor, het almal in die sinagoge woedend geword. 29Hulle het opgespring en Hom uit die dorp gedryf. En hulle het Hom geneem tot op die rand van die berg waarop hulle dorp gebou was, om Hom daar af te gooi. 30Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan.
Genesing van 'n besetene
(Mark 1:21-28)
31Hierna het Hy na Kapernaum afgegaan, 'n stad in Galilea, waar Hy die mense gereeld op die Sabbatdag onderrig het. 32 Hulle was verbaas oor sy lering, omdat Hy met gesag gepraat het.
33In die •sinagoge was daar 'n man in wie daar die gees van 'n •onrein demoon was. Hy het kliphard geskreeu: 34“Ag, los ons uit, Jesus van Nasaret! Het U gekom om ons te vernietig? Ek weet wie U is – U is die •Heilige van God! ”
35Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit!” En die demoon het die man tussen hulle op die grond laat neerslaan en uit hom uitgegaan sonder om hom te beseer. 36Almal was baie verbaas en hulle het vir mekaar gesê: “Wat is besonders omtrent hierdie man se woorde, dat Hy die onrein geeste met soveel gesag en mag gebied, en hulle dan die mense verlaat?” 37Die nuus oor Hom het na elke plek in die omgewing versprei.
Genesings in Simon se huis
(Matt 8:14-17; Mark 1:29-34)
38Nadat Jesus die •sinagoge verlaat het, is Hy na Simon se huis en het daar ingegaan. Simon se skoonmoeder was siek met 'n hoë koors, en daarom het hulle Hom gevra om iets vir haar te doen. 39Hy het oor haar gebuk en die koors bestraf, en dit het haar verlaat. Sy het onmiddellik opgestaan en hulle bedien.
40Teen sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak. 41Daar het ook demone uit baie mense uitgegaan, terwyl hulle skreeu: “U is die •Seun van God!” Maar Hy het hulle skerp aangespreek en hulle nie toegelaat om te praat nie. Hulle het immers geweet dat Hy die Christus is.
Vertrek uit Kapernaum
(Mark 1:35-39)
42Teen dagbreek het Hy vertrek en na 'n verlate plek gegaan. Die skares het Hom egter gesoek, en toe hulle Hom kry, het hulle Hom probeer verhinder om van hulle af weg te gaan. 43Maar Hy het vir hulle gesê: “Ek moet ook in die ander dorpe die evangelie van die •koninkryk van God verkondig, want daarvoor is Ek gestuur.”
44En Hy het voortgegaan om in die •sinagoges van Judea te preek.

Tans Gekies:

Lukas 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid