Lukas 1

1
Proloog
1Baie mense het reeds hulle hand daaraan gewaag om 'n verhaal saam te stel oor dit wat onder ons tot vervulling gekom het, 2soos die mense wat van die begin af ooggetuies en dienaars van die Woord was, dit aan ons oorgelewer het. 3Daarom, geagte Teofilus, het ook ek dit goedgedink om self alles stap vir stap van voor af noukeurig te ondersoek en dit in volgorde vir u neer te skryf, 4sodat u vir seker kan weet dat die onderrig wat u oor hierdie gebeure ontvang het, betroubaar is.
Geboorte van Johannes aangekondig
5In die tyd toe Herodes koning van Judea was, was daar 'n priester uit die diensgroep van Abia met die naam Sagaria. Sy vrou was uit Aäron se nageslag, en haar naam was Elisabet. 6Hulle was albei •regverdig in die oë van God en het onberispelik volgens al die gebooie en voorskrifte van die Here geleef. 7Hulle was kinderloos, omdat Elisabet onvrugbaar was en albei van hulle al op ver gevorderde leeftyd was. 8Toe Sagaria op 'n keer tydens sy diensgroep se beurt voor God tempeldiens gedoen het, 9is hy volgens priesterlike gebruik deur die lot aangewys om die heiligdom van die Here binne te gaan en die reukoffer te bring. 10En die hele menigte van die volk was besig om op die tyd van die reukoffer buite te bid. 11'n Engel van die Here het toe aan hom verskyn en aan die regterkant van die altaar vir die reukwerk gestaan. 12Sagaria was ontsteld toe hy hom sien, en vrees het hom oorval, 13maar die engel het vir hom gesê:
“Moenie bang wees nie, Sagaria,
want jou gebed is verhoor.
Jou vrou, Elisabet, sal vir jou
geboorte gee aan 'n seun,
en jy moet hom Johannes noem.
14Jy sal blydskap en uitbundige vreugde beleef,
en baie mense sal bly wees oor sy geboorte.
15Inderdaad, hy sal groot wees
in die oë van die Here.
Hy sal glad nie wyn en gegiste drank drink nie ,
en hy sal reeds van voor sy geboorte af
met die Heilige Gees vervul wees.
16Hy sal baie van die kinders van Israel
na die Here hulle God laat terugkeer.
17Hy sal met die gees en krag van Elia
voor die Here uitgaan
om die harte van vaders na hulle kinders terug te bring,
en ongehoorsames na die denkwyse van •regverdiges,
en só 'n goed voorbereide volk vir die Here gereed te maak. ”
18Sagaria sê toe vir die engel: “Hoe sal ek dit weet? Want ek is al oud, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd. ” 19Daarop antwoord die engel hom: “Ek is Gabriël , wat in die teenwoordigheid van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie boodskap vir jou te bring. 20Ek sê vir jou: Omdat jy my woorde, wat op hulle vasgestelde tyd in vervulling sal gaan, nie geglo het nie, sal jy stom wees. Jy sal nie kan praat nie, tot op die dag waarop hierdie dinge gebeur.”
21Die volk het ondertussen vir Sagaria gestaan en wag, en was verbaas dat hy so lank in die heiligdom talm. 22Maar toe hy uitkom, kon hy nie met hulle praat nie. Hulle besef toe dat hy 'n visioen in die heiligdom gesien het. Hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly.
23Toe sy tempeldiens verby was, het hy huis toe gegaan. 24Hierna het sy vrou Elisabet swanger geraak. Sy het haar vyf maande lank afgesonder en gesê: 25“Dit is wat die Here in hierdie dae vir my gedoen het: Hy het na my omgesien deur die minagting van die mense van my weg te neem. ”
Geboorte van Jesus aangekondig
26In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, 27 na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria. 28Die engel het na haar gegaan en gesê: “Gegroet, begenadigde vrou! Die Here is met jou!”
29Sy was verward oor die woorde en het gewonder wat hierdie groet tog kon beteken. 30Die engel het vir haar gesê:
“Moenie bang wees nie, Maria,
want jy het genade by God gevind.
31Kyk, jy sal swanger word
en aan 'n seun geboorte skenk.
Jy moet Hom Jesus noem.
32Hy sal magtig wees,
en die Seun van die Allerhoogste genoem word.
En die Here God sal aan Hom
die troon van sy voorvader Dawid gee.
33 Hy sal vir ewig oor die nageslag van Jakob regeer.
Aan sy heerskappy sal daar geen einde kom nie. ”
34Maar Maria het vir die engel gesê: “Hoe kan so iets moontlik wees, aangesien ek nie gemeenskap met 'n man het nie?” 35Die engel het haar geantwoord:
“Die Heilige Gees sal oor jou kom
en die krag van die Allerhoogste
sal jou oorskadu.
Daarom sal die Kind wat gebore word, heilig wees;
Hy sal •Seun van God genoem word.
36“Kyk, Elisabet, 'n familielid van jou, is ook swanger, en sy verwag 'n seun ten spyte van haar hoë ouderdom. Alhoewel sy vroeër as onvrugbaar beskou is, is sy reeds ses maande swanger, 37 want geen woord wat van God af kom, is kragteloos nie.” 38Toe sê Maria: “Kyk, ek is die diensmeisie van die Here. Mag met my gebeur volgens u woord.” En die engel het van haar af weggegaan.
Maria se besoek aan Elisabet
39In daardie tyd het Maria gereedgemaak en haastig na die bergstreek vertrek, na 'n dorp in Juda. 40Sy het Sagaria se huis binnegegaan en Elisabet gegroet.
41Toe Elisabet Maria se begroeting hoor, het die kindjie in haar moederskoot van vreugde gespring. Sy is met die Heilige Gees vervul 42en het hardop uitgeroep:
“Geseënd is jy onder die vroue!
Geseënd is die vrug van jou moederskoot!
43Wie is ek, dat die moeder van my Here na my toe kom?
44Kyk, net toe ek jou groet hoor,
het die kindjie in my moederskoot
van uitbundige blydskap opgespring.
45En gelukkig is sy wat geglo het
dat die Here se beloftes aan haar vervul sal word. ”
Maria se loflied
46 Maria het toe gesê:
“My siel loof die Here,
47my gees jubel oor God my Verlosser,
48want Hy het die nederigheid van sy diensmeisie raakgesien.
Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem,
49want die Magtige het groot dinge vir my gedoen –
ja, heilig is sy Naam.
50 Hy bewys ontferming van geslag tot geslag
aan hulle wat vir Hom ontsag het.
51 Kragtige dade verrig Hy met sy arm.
Die denke van hoogmoediges verwar Hy,
52heersers ruk Hy van hulle trone af,
en geringes verhoog Hy.
53 Hongeriges versadig Hy met goeie gawes,
en rykes stuur Hy met leë hande weg.
54 Sy dienskneg Israel het Hy bygestaan,
deur sy ontferming in gedagte te hou,
55 soos Hy dit aan ons voorvaders beloof het,
aan Abraham en sy nageslag, vir ewig.”
56Maria het ongeveer drie maande by Elisabet gebly en daarna teruggegaan huis toe.
Geboorte van Johannes die Doper
57Toe die tyd aanbreek dat Elisabet geboorte moes gee, het sy 'n seun in die wêreld gebring. 58Haar bure en familie het gehoor dat die Here Hom uitsonderlik oor haar ontferm het, en hulle was saam met haar bly.
59 Op die agtste dag het mense toe gekom om die kindjie te besny. Hulle wou hom vernoem na sy vader Sagaria. 60Maar sy moeder het gesê: “Nee, hy moet Johannes genoem word.” 61Hulle sê toe vir haar: “Maar daar is niemand in jou familie met dié naam nie.” 62Hulle het ook met behulp van gebare aan sy vader gevra wat hy wou hê die kindjie genoem moet word. 63Hy het 'n skryfbordjie gevra en geskryf: “Sy naam is Johannes.” En almal was verbaas. 64Skielik kon Sagaria sy mond en sy tong weer onbelemmerd gebruik, en hy het God begin prys.
65Almal wat in die omgewing woon, is toe met ontsag vervul, en in die hele bergstreek van Judea het die mense oor al hierdie gebeure gepraat. 66Almal wat hiervan gehoor het, het in hulle harte daaroor bly nadink en gewonder: “Waarvoor is hierdie kindjie bestem?” Die hand van die Here was werklik met hom.
Loflied van Sagaria
67Sagaria, sy pa, is hierna met die Heilige Gees vervul en het geprofeteer en gesê:
68“Lofwaardig is die Here, die God van Israel,
want Hy het omgesien na sy volk
en hulle bevryding bewerkstellig.
69'n Kragtige verlossing het Hy vir ons bewerk
uit die nageslag van Dawid, sy dienskneg,
70soos Hy reeds lank gelede
by monde van sy heilige profete beloof het –
71 verlossing van ons vyande
en uit die hand van almal wat ons haat.
72 Dit het Hy gedoen om ontferming aan ons voorvaders te bewys
en sy heilige verbond in gedagte te hou,
73 die eed wat Hy teenoor ons vader Abraham gesweer het ,
sodat ons, 74gered uit die hand van ons vyande,
Hom sonder vrees sou dien,
75 en al ons dae voor Hom
in heiligheid en •geregtigheid kan leef.
76En jy, kindjie, profeet van die Allerhoogste
sal jy genoem word,
want jy sal voor die Here uitloop
om sy paaie gereed te maak,
77en om sy volk in te lig dat hulle verlos kan word
deur die vergewing van hulle sondes,
78danksy ons God se innige ontferming,
waardeur die môreson uit die hoogte oor ons sal opkom,
79om te skyn oor diegene wat hulle in die duisternis
en in die skadu van die dood bevind,
en om ons voete op die pad van vrede te plaas.”
80Die kindjie het gegroei en sterk geword deur die Gees. Hy het in die woestyngebiede gewoon totdat hy in die openbaar voor Israel begin optree het.

Tans Gekies:

Lukas 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid