Josua 7

7
Nederlaag by Ai
1Die Israeliete het egter 'n daad van ontrou begaan met die bangoed. Agan, seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, het van die bangoed gevat; en die toorn van die Here het teen die Israeliete ontbrand. 2Josua het manne uit Jerigo na Ai gestuur, wat by Bet-Awen, oos van Bet-El, lê. Hy het vir hulle gesê: “Trek op, verken die land.” Die manne het opgetrek en Ai verken. 3Hulle het na Josua teruggekom en gesê: “Nie al die manskappe moet optrek nie. Ongeveer twee- of drieduisend man kan optrek; hulle sal Ai verslaan. Moenie al die manskappe die moeite aandoen om hulle daarheen te stuur nie, want daar is maar min mense.”
4Ongeveer drieduisend van die manskappe het daarheen opgetrek, maar hulle het gevlug voor die manne van Ai. 5Die manne van Ai het ongeveer ses-en-dertig van hulle neergevel. Hulle het hulle van voor die stadspoort af tot by Sebarím agtervolg en hulle teen die hang neergevel. Die harte van die manskappe het ineengekrimp en soos water geword.
6Josua het sy klere geskeur en tot die aand toe met sy gesig teen die grond neergebuig voor die ark van die Here – hy en die oudstes van Israel. Hulle het stof op hulle koppe gestrooi. 7Josua het gesê: “Ag, Here, my Heer, waarom het U hierdie volk ooit deur die Jordaan laat trek om ons in die hande van die Amoriete oor te gee, om ons te vernietig? Was ons maar liewer bereid om oorkant die Jordaan te bly! 8Asseblief, my Heer! Wat moet ek sê nadat Israel voor sy vyande gevlug het? 9Die Kanaäniete en al die inwoners van die land sal dit hoor, ons omsingel en ons naam van die aarde af uitroei . Wat sal U dan doen vir u groot Naam? ”
10Die Here het Josua geantwoord: “Staan op! Waarom lê jy nou op jou gesig? 11Israel het gesondig. Hulle het my verbond wat Ek hulle beveel het, oortree, asook van die bangoed geneem, dit gesteel en daaroor gelieg, en dit boonop by hulle goed gevoeg. 12 Die Israeliete sal nie kan standhou voor hulle vyande nie; hulle moet voor hulle vyande vlug, omdat hulle self bangoed geword het. Ek sal nie meer met julle wees nie, tensy julle die bangoed tussen julle uitdelg. 13Staan op, heilig die volk en sê, ‘Heilig julleself teen môre, want so het die Here, die God van Israel, gesê: “Bangoed is in jou midde, Israel. Jy sal nie standhou voor jou vyande nie, totdat julle die bangoed uit julle midde verwyder het.” 14Kom môreoggend nader volgens julle stamme. Die stam wat die Here uitwys, moet volgens familiegroepe nader kom, en die familiegroep wat die Here uitwys, moet volgens families nader kom, en die familie wat die Here uitwys, moet man vir man nader kom. 15Die een wat met die bangoed uitgewys word, moet verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die Here oortree en heiligskennis gepleeg het in Israel.’ ”
16Josua het vroeg die môre opgestaan en Israel volgens hulle stamme laat nader kom. Die stam van Juda is toe uitgewys. 17Hy het die familiegroepe van Juda laat nader kom, en die familiegroep van Serag is uitgewys. Daarna het hy die familiegroep van Serag man vir man laat nader kom, en Sabdi is uitgewys. 18Toe het hy Sabdi se familie man vir man laat nader kom, en Agan, die seun van Karmi, seun van Sabdi, seun van Serag, van die stam van Juda, is uitgewys.
19Josua sê toe vir Agan: “My seun, gee tog eer aan die Here, die God van Israel, en bring lof aan Hom. Vertel my tog wat jy gedoen het. Moenie vir my iets wegsteek nie.” 20Agan het Josua geantwoord en gesê: “Waarlik, dit is ek wat gesondig het teen die Here, die God van Israel. Dit is wat ek gedoen het: 21Ek het onder die buit een mooi koningsmantel uit Sinar, tweehonderd sikkel silwer en een staaf goud wat vyftig sikkel weeg, gesien. Ek het dit begeer en dit gevat. Kyk, dit is weggesteek in die grond, binne-in my tent. Die silwer is heel onder.”
22Josua het toe boodskappers gestuur. Hulle het na die tent gehardloop, en sowaar, dit was weggesteek in die tent met die silwer heel onder. 23Hulle het dit uit die tent gehaal en na Josua en al die Israeliete gebring. Hulle het dit voor die Here uitgeskud. 24Josua en die hele Israel saam met hom, neem toe vir Agan, afstammeling van Serag, met die silwer, die koningsmantel en die staaf goud, asook sy seuns en dogters, sy beeste, sy donkies, sy kleinvee, sy tent en alles wat aan hom behoort. Hulle het hulle laat opgaan in die vallei van Agor. 25Josua het gesê: “Hoe het jy ons in die ongeluk gestort! Vandag stort die Here jou in die ongeluk!” Toe gooi die hele Israel hom met klippe dood. Die res het hulle verbrand of gestenig. 26Hulle het 'n groot hoop klippe op hom gepak, wat vandag nog daar is, en die Here se brandende toorn het bedaar. Daarom het hulle daardie plek Vallei van Agor genoem; dit is vandag nog so.

Tans Gekies:

Josua 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid