Josua 3

3
Tog deur die Jordaan
1Josua het vroeg die môre opgestaan. Hulle het van Sittim af weggetrek en by die Jordaan aangekom, hy en al die Israeliete. Hulle het daar oornag voordat hulle oorgetrek het. 2Ná verloop van drie dae het die opsieners deur die kamp gegaan 3en aan die volk opdragte gegee: “Wanneer julle die verbondsark van die Here julle God sien, en die priesters, die Leviete wat dit dra, moet julle van julle staanplekke af verder trek. Volg die ark, 4maar daar moet 'n afstand van ongeveer tweeduisend el tussen julle en die ark wees. Moenie naby aan die ark kom nie, sodat julle die pad waarop julle moet gaan, kan leer ken, want julle het nie voorheen met dié pad langs getrek nie.”
5 Josua het vir die volk gesê: “Heilig julleself, want môre gaan die Here in julle midde wonders doen.” 6 Josua het vir die priesters gesê: “Tel die verbondsark op en trek voor die volk oor.” Hulle het toe die verbondsark opgetel en voor die volk geloop.
7Die Here het vir Josua gesê: “Vandag begin Ek om aan jou aansien te gee in die oë van die hele Israel, sodat hulle kan weet dat, soos Ek by Moses was, Ek by jou is. 8Gee jy dan aan die priesters wat die verbondsark dra, opdrag en sê, ‘Sodra julle by die kant van die water van die Jordaan kom, moet julle in die Jordaan gaan staan.’ ”
9Josua het vir die Israeliete gesê: “Kom nader en luister na die woorde van die Here julle God.” 10Josua het ook gesê: “Hieraan sal julle weet dat die lewende God in julle midde is en dat Hy beslis die Kanaäniete, die Hetiete, die Hewiete, die Feresiete, die Girgasiete, die Amoriete en die Jebusiete voor julle sal verdryf: 11Kyk, die verbondsark, die Heer van die hele aarde, gaan voor julle uit, die Jordaan in. 12 Neem dan nou vir julle twaalf manne uit die stamme van Israel, een man vir elke stam. 13Wanneer die voete van die priesters wat die ark van die Here, die Heer van die hele aarde, dra, in die water van die Jordaan tot rus kom, sal die water van die Jordaan, die water wat van bo af kom, afgesny word en in een massa opdam. ”
14Toe die volk wegtrek van hulle kampplek om die Jordaan oor te steek, was die priesters wat die verbondsark dra, voor die volk. 15Die Jordaan loop die hele oestyd kant en wal, maar net toe die draers van die ark by die Jordaan kom en die voete van die priesters wat die ark dra, in die water ingaan, 16het die water wat van die bokant af kom, gaan staan. Dit het 'n wal gevorm en opgedam – baie ver terug, vanaf Adam, die dorp langs Saretan. Die water wat na die See van die Araba, die Soutsee, vloei, is volledig afgesny. Die volk het toe deurgetrek, reg teenoor Jerigo. 17Terwyl die hele Israel op droë grond deurtrek, het die priesters wat die verbondsark van die Here dra, in die middel van die Jordaan stewig op droë grond gestaan totdat die hele nasie die deurtog deur die Jordaan voltooi het.

Tans Gekies:

Josua 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid