Josua 24

24
Verbondsluiting by Sigem
1Josua het al die stamme van Israel in Sigem byeen laat kom. Hy het die oudstes van Israel, hulle hoofde, hulle regters en opsieners opgeroep, en hulle het in die teenwoordigheid van God gaan staan. 2 Josua sê toe vir die hele volk: “So sê die Here, die God van Israel, ‘Anderkant die Rivier het julle voorvaders in die verre verlede gewoon – Tera, die vader van Abraham en Nahor – en hulle het ander gode gedien. 3Maar Ek het julle voorvader Abraham van anderkant die Rivier af geneem en hom deur die hele land Kanaän laat trek. Ek het sy nageslag vermeerder: Ek het aan hom Isak gegee, 4en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee. Ek het vir Esau die bergland Seïr gegee om dit in besit te neem, maar Jakob en sy seuns het afgetrek na Egipte. 5Ek het Moses en Aäron gestuur, en Ek het Egipte met plae getref, soos wat Ek gedoen het, en daarna het Ek julle laat wegtrek. 6 Ek het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek, en julle het by die see aangekom. Die Egiptenare het julle voorouers met strydwaens en bemanning agtervolg tot by die Rietsee. 7Hulle het na die Here om hulp geroep, en Hy het dit donker laat word tussen julle en die Egiptenare. Hy het die see oor hulle laat kom en dit het hulle bedek. Julle het met julle eie oë gesien wat Ek in Egipte gedoen het. Daarna het julle vir 'n lang tyd in die woestyn gebly; 8 en toe het Ek julle ingebring in die land van die Amoriete, wat oorkant die Jordaan gewoon het. Hulle het teen julle geveg, maar Ek het hulle in julle hand gegee, sodat julle hulle land in besit geneem het. Ek het hulle voor julle verdelg. 9 Toe het Balak, seun van Sippor, die koning van Moab, gereedgemaak en teen Israel geveg. Hy het Bileam, seun van Beor, ontbied om julle te vervloek. 10Ek wou egter nie na Bileam luister nie, en hy het julle toe net geseën. So het Ek julle uit sy hand gered. 11 Julle het toe die Jordaan oorgesteek en by Jerigo aangekom. Die burgers van Jerigo, die Amoriete, die Feresiete, die Kanaäniete, die Hetiete, die Girgasiete, die Hewiete en Jebusiete, het teen julle oorlog gemaak, maar Ek het hulle in julle hand gegee. 12Ek het 'n vlaag paniek voor julle uit gestuur en dit het hulle, die twee konings van die Amoriete, voor julle uitgedryf. Dit was nie deur julle swaarde en boë nie. 13 Ek het vir julle land gegee waarvoor julle nie hard gewerk het nie, dorpe wat julle nie gebou het nie, waar julle woon, en wingerde en olyfboorde wat julle nie geplant het nie, maar waarvan julle eet.’
14“ Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die Here; dien Hom met opregtheid en getrouheid. Verwyder die gode wat julle voorvaders anderkant die Rivier en in Egipte gedien het, en dien die Here. 15 Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.”
16Hierop het die volk geantwoord en gesê: “Nooit sal ons die Here verlaat deur ander gode te dien nie; 17want die Here ons God, Hy is die Een wat ons en ons voorouers uit Egipteland, uit die plek van slawerny, laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens van mag gedoen het. Hy het ons bewaar op die hele pad waarlangs ons gegaan het, en onder al die volke waar ons deurgetrek het. 18Die Here het al die volke voor ons uitgedryf en die Amoriete wat in die land gewoon het. Ook ons sal die Here dien, want Hy is ons God.”
19Maar Josua het vir die volk gesê: “Julle sal nie in staat wees om die Here te dien nie, want Hy is 'n heilige God, Hy is 'n besitlike God, Hy sal nie julle oortreding en sondes vergewe nie. 20As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en 'n einde aan julle maak, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” 21Toe sê die volk vir Josua: “Nee, maar ons sal net die Here dien!” 22Daarop sê Josua vir die volk: “Julle is getuies teen julleself dat julle self die Here vir julle gekies het om te dien.” Hulle het geantwoord: “Ons is getuies.” 23 “Verwyder dan nou die vreemde gode in julle midde en rig julle harte op die Here, die God van Israel.” 24Toe sê die volk vir Josua: “Ons sal net die Here ons God dien, en ons sal net na sy stem luister.”
25 Josua het op daardie dag namens die volk 'n verbond gesluit en vir hulle vaste voorskrifte en bepalings neergelê in Sigem. 26Josua het daardie woorde in die •boekrol met die Wet van God neergeskryf. Toe het hy 'n groot klip geneem en dit opgerig, daar onder die groot terebintboom wat by die heiligdom van die Here is. 27Josua het vir die hele volk gesê: “Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die Here wat Hy met ons gepraat het, gehoor; en hy sal teen julle 'n getuie wees, sodat julle nie julle God verloën nie.”
28 Daarna het Josua die volk weggestuur, elkeen na sy erfdeel.
Dood van Josua en Eleasar
29 Ná hierdie gebeure het Josua, seun van Nun, die dienskneg van die Here, op die ouderdom van honderd-en-tien jaar gesterf. 30Hulle het hom begrawe in die gebied van sy erfdeel in Timnat-Serag, wat in die heuwelland van Efraim is, noord van die berg Gaäs. 31Israel het die Here gedien gedurende Josua se leeftyd, en gedurende die leeftyd van die oudstes wat lank ná Josua nog geleef het en al die dade van die Here geken het wat Hy vir Israel gedoen het.
32Die beendere van Josef wat die Israeliete uit Egipte gebring het, het hulle in Sigem begrawe in die stuk veld wat Jakob vir honderd kesita gekoop het by die seuns van Gamor, die vader van Sigem. Dit was die nageslag van Josef se erfdeel.
33Eleasar, seun van Aäron, het ook gesterf. Hulle het hom begrawe op die heuwel wat aan sy seun Pinehas behoort het en wat in die heuwelland van Efraim aan hom gegee is.

Tans Gekies:

Josua 24: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid