Josua 1

1
Opdragte aan Josua
1Ná die dood van Moses, die dienskneg van die Here, het die Here vir Josua, seun van Nun, Moses se helper, gesê: 2“Moses, my dienskneg, is dood. Daarom, maak nou gereed om hierdie Jordaan oor te steek, jy en hierdie hele volk, na die land wat Ek aan hulle, aan die Israeliete, gaan gee. 3 Elke plek waarop julle voete trap – aan julle gee Ek dit soos Ek aan Moses beloof het. 4 Van die woestyn en die Libanon af tot by die groot rivier, die Eufraat, die hele land van die Hetiete tot by die Groot See in die weste, sal julle gebied wees. 5Solank jy leef, sal niemand voor jou kan standhou nie. Soos Ek by Moses was, sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat en jou nie verlaat nie. 6Wees dapper en sterk, want jy moet hierdie volk die land in besit laat neem wat Ek met 'n eed aan hulle voorvaders beloof het om aan hulle te gee. 7Wees net baie dapper en sterk, sodat jy die hele wet wat Moses, my dienskneg, jou beveel het, nougeset uitvoer. Moenie links of regs daarvan afwyk nie, sodat jy sukses kan behaal oral waar jy gaan. 8Hierdie •boekrol van die wet mag nie uit jou mond verdwyn nie. Jy moet dit dag en nag mymerend prewel, sodat jy alles wat daarin geskryf is, nougeset kan nakom; want dan sal jy voorspoedig wees op jou pad; dan sal jy sukses behaal. 9Het Ek jou nie beveel, ‘Wees dapper en sterk’ nie? Moenie paniekbevange wees nie en moet jou nie laat afskrik nie, want die Here jou God is by jou, oral waar jy gaan.”
10Josua het toe die opsieners van die volk opdrag gegee: 11“Gaan deur die kamp en gee opdrag aan die volk, ‘Maak vir julle padkos gereed, want oor drie dae gaan julle hierdie Jordaan oorsteek om die land binne te gaan, om in besit te neem wat die Here julle God aan julle gaan gee om in besit te neem.’ ”
12Vir die stamme van Ruben en Gad en die halwe stam van Manasse het Josua gesê: 13“Onthou die saak waaroor Moses, die dienskneg van die Here, julle opdrag gegee het, ‘Die Here julle God gaan vir julle rus gee en hierdie land aan julle gee. 14Julle vroue, die swakkes onder julle en julle vee kan bly in die gebied oorkant die Jordaan wat Moses aan julle gegee het. Maar julle moet in slagorde voor julle broers oortrek, al die dapper krygers, en hulle bystaan 15totdat die Here vir julle broers rus gegee het soos vir julle, en hulle ook die land wat die Here julle God vir hulle gee, in besit geneem het. Dan mag julle terugkeer na die land wat julle eiendom is en dit in besit neem – die land wat Moses, die dienskneg van die Here, vir julle gegee het oorkant die Jordaan, aan die oostekant.’ ”
16Hulle het Josua geantwoord: “Alles wat u ons beveel, sal ons doen, en oral waarheen u ons stuur, sal ons gaan. 17Net soos ons aan Moses gehoorsaam was, so sal ons aan u gehoorsaam wees. Mag die Here u God ook by u wees, net soos Hy by Moses was. 18Elkeen wat teen u bevel in opstand kom en nie u woorde gehoorsaam nie, wat u hom ook al beveel, moet sterf. Wees net dapper en sterk.”

Tans Gekies:

Josua 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid