Job 1

1
Job se teenspoed
1In die land Us was daar 'n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede; hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy. 2Daar is vir hom sewe seuns en drie dogters gebore. 3Hy het seweduisend stuks kleinvee, drieduisend kamele, vyfhonderd pare beeste, vyfhonderd donkiemerries en 'n besondere groot werksmag gehad. Hierdie man was meer vermoënd as enigiemand in die ooste.
4Sy seuns het die gewoonte gehad om elkeen in sy eie huis, om die beurt, 'n fees aan te bied. Hulle het dan 'n boodskap gestuur en hulle drie susters genooi om saam met hulle te eet en te drink. 5Wanneer die feesdae verby was, het Job hulle laat haal en hulle geheilig. Hy het vroeg in die môre vir elkeen van hulle 'n •brandoffer gebring; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle harte gevloek. Job het dit elke keer gedoen.
Job se geloofstoets
6 Toe, op 'n dag, het die hemelwesens gekom om by die Here hulle plekke in te neem. Die satan het ook saam met hulle gekom.
7 Die Here sê toe vir die satan: “Waar kom jy vandaan?” Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Van rondswerf op die aarde en daar rondloop.” 8Die Here het vir die satan gesê: “Het jy kennis geneem van my dienskneg Job? Daar is immers niemand soos hy op aarde nie. Hy is onberispelik in sy optrede en opreg, 'n man wat vir God ontsag het en die kwaad vermy.” 9Die satan het die Here geantwoord; hy het gesê: “Is dit sonder rede dat Job ontsag het vir God? 10Is dit nie U self wat hom en sy huis, en alles wat aan hom behoort, aan alle kante afgeskerm het nie? Sy handewerk het U geseën, en sy veestapel het in die land uitgebrei. 11Maar steek nou net u hand uit en tas alles aan wat aan hom behoort – hy sal U beslis in u gesig vloek. ”
12Die Here sê toe vir die satan: “Kyk, alles wat aan hom behoort, is in jou hand. Net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie.” Die satan het toe uitgegaan, weg van die Here af.
13 Toe, op 'n dag, terwyl sy seuns en dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hulle oudste broer, 14kom daar 'n boodskapper by Job aan en sê: “Die beeste was aan die ploeg, en die donkiemerries het langsaan gewei; 15toe loods die Sabeërs 'n aanval en vat hulle. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
16Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “Die vuur van God het uit die hemel geval en die kleinvee en werkers verbrand en verteer. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
17Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “Galdeërs het drie eenhede opgestel, 'n plundertog uitgevoer op die kameeltroppe en hulle gevat. Hulle het die werkers met die skerpte van die swaard neergevel. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
18Terwyl dié een nog besig is om te praat, kom 'n ander een daar aan en sê: “U seuns en u dogters was besig om te eet en wyn te drink in hulle oudste broer se huis, 19toe daar onverwags 'n sterk wind van die woestyn se kant af kom en die vier hoeke van die huis tref. Dit het op die jongmense ingestort en hulle het gesterf. Net ek alleen het vrygekom om dit aan u te kom vertel.”
20 Job het toe opgestaan, sy mantel geskeur, sy kop kaal geskeer, op die grond neergeval en in aanbidding gebuig. 21Hy het gesê:
“Naak het ek uit my moeder se skoot gekom,
en naak sal ek na die skoot van die aarde terugkeer.
Die Here het gegee
en die Here het geneem.
Mag die Naam van die Here geprys word! ”
22 Ondanks dit alles het Job nie gesondig nie en aan God niks ongerymds toegeskryf nie.

Tans Gekies:

Job 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid