Johannes 13

13
Dissipels se voete gewas
1Voor die Fees van die Pasga het Jesus reeds geweet dat sy uur aangebreek het dat Hy van hierdie wêreld na die Vader sou oorgaan. Daarom, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde. 2Gedurende die aandete het die Duiwel dit reeds in die hart van Judas, seun van Simon Iskariot, gelê om Jesus te verraai. 3Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het, en dat Hy van God gekom het en weer na God terugkeer. 4Daarom het Hy van die ete opgestaan, sy boklere uitgetrek, 'n linnedoek geneem en dit om Hom vasgebind. 5 Toe gooi Hy water in die waskom en begin om die voete van die dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. 6Toe Hy by Simon •Petrus kom, sê dié vir Hom: “Here, gaan U my voete was?” 7Jesus het hom geantwoord: “Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar hierna sal jy verstaan. ” 8Petrus sê toe vir Hom: “U sal beslis nie my voete was nie – tot in ewigheid nie!” Jesus het hom geantwoord: “As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.” 9Toe sê Simon Petrus vir Hom: “Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.” 10Maar Jesus sê vir hom: “Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.” 11Want Jesus het geweet wie Hom sou verraai, en daarom het Hy gesê: “Julle is nie almal skoon nie.”
12Toe Hy hulle voete klaar gewas het en weer sy boklere aangetrek en aangeleun het om te eet, sê Hy vir hulle: “Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? 13 Julle noem my Meester en Here, en julle sê dit tereg, want Ek is dit. 14 As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. 15 Ek het immers vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos wat Ek gemaak het. 16Amen, amen, Ek sê vir julle: 'n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en 'n gesant nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. 17 As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen. 18Ek sê dit nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, ‘Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig.’ 19 Ek sê dit nou reeds vir julle, voor dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo dat Ek Is. 20Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie iemand wat Ek stuur ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het. ”
Jesus en sy verraaier
(Matt 26:20-25; Mark 14:17-21; Luk 22:21-23)
21Nadat Jesus dit gesê het, was Hy diep ontroerd, en het Hy getuig en gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” 22Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker van wie Hy praat. 23Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun. 24Simon •Petrus het vir hom geknik om uit te vind wie dit sou kon wees van wie Jesus praat. 25 Hy het toe teruggeleun teen Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?” 26Jesus het hom geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek 'n stukkie brood sal indoop en aangee.” Toe Hy die stukkie brood ingedoop het, het Hy dit geneem en aan Judas, seun van Simon Iskariot, gegee. 27Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen.” 28Niemand van dié wat daar aangeleun het om te eet, het verstaan waarom Hy dit aan Judas gesê het nie. 29Omdat Judas die geldbeurs gedra het, het sommige gedink dat Jesus aan hom gesê het: “Gaan koop wat ons vir die fees nodig het,” of dat hy iets aan die armes moes gee. 30Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy onmiddellik buitentoe gegaan. En dit was nag.
'n Nuwe opdrag
31 Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: “Nou is die •Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. 32As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik, en Hy sal Hom dadelik verheerlik. 33 My kinders, Ek is nog net 'n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie. 34 Ek gee julle 'n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. 35 Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.”
Waarskuwing aan Petrus
(Matt 26:31-35; Mark 14:27-31; Luk 22:31-34)
36Simon •Petrus vra Hom toe: “Here, waarheen gaan U?” Jesus het hom geantwoord: “Waarheen Ek gaan, kan jy My nie nou volg nie, maar later sal jy volg.” 37Maar Petrus sê vir Hom: “Here, waarom kan ek U nie nou volg nie? Ek sal my lewe vir U aflê.” 38Toe antwoord Jesus: “Sal jy jou lewe vir My aflê? Amen, amen, Ek sê vir jou: Die haan sal beslis nie kraai voordat jy My drie keer verloën het nie.”

Tans Gekies:

Johannes 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid