Johannes 11

11
Dood van Lasarus
1Daar was 'n man met die naam Lasarus, wat siek was. Hy was van Betanië, die dorp van Maria en haar suster Martha. 2Dit was die Maria wat die Here met geurige olie gesalf en wat sy voete met haar hare afgedroog het, wie se broer Lasarus siek was. 3Die susters het toe iemand na Jesus gestuur om te sê: “Here, kyk, hy vir wie U lief is, is siek.” 4En toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “Hierdie siekte lei nie tot die dood nie, maar tot die verheerliking van God, sodat die •Seun van God daardeur verheerlik kan word. ” 5Jesus het Martha en haar suster en Lasarus liefgehad. 6Toe Hy hoor van Lasarus se siekte, het Hy nog twee dae vertoef op die plek waar Hy was. 7Eers daarna sê Hy vir sy dissipels: “Kom ons gaan terug na Judea.” 8Die dissipels sê toe vir Hom: “Rabbi, onlangs nog het die Jode U probeer stenig, en U gaan weer daarheen?” 9En Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf ure in die dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien. 10 Maar as iemand in die nag loop, struikel hy, omdat die lig nie by hom is nie.” 11Nadat Hy dit gesê het, sê Hy vir hulle: “Ons vriend Lasarus slaap, maar Ek gaan om hom wakker te maak.” 12Die dissipels sê toe vir Hom: “Here, as hy slaap, sal hy gesond word.” 13Maar Jesus het van sy dood gepraat, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van gewone slaap praat. 14Toe sê Jesus openlik vir hulle: “Lasarus het gesterf, 15en ter wille van julle is Ek bly dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.” 16Thomas, wat bekend staan as Didimus, het toe vir sy mededissipels gesê: “Kom ons gaan ook, sodat ons saam met Hom kan sterf. ”
Jesus by Martha en Maria
17Toe Jesus daar aankom, het Hy gevind dat Lasarus reeds vier dae in die graf was. 18 Betanië was naby Jerusalem, ongeveer vyftien stadion ver, 19en baie van die Jode het na Martha en Maria gekom om hulle oor hulle broer te troos. 20Toe Martha hoor dat Jesus op pad is, het sy Hom tegemoetgegaan, maar Maria het in die huis bly sit. 21Martha sê toe vir Jesus: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie. 22Maar selfs nou weet ek dat wat U ook al van God vra, God vir U sal gee.” 23Jesus sê vir haar: “Jou broer sal opstaan.” 24Martha sê toe vir Hom: “Ek weet dat hy sal opstaan met die opstanding op die laaste dag.” 25Jesus het vir haar gesê: “Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal leef, al het hy ook gesterf; 26en elkeen wat leef en in My glo, sal tot in ewigheid nooit sterf nie. Glo jy dit?” 27Sy sê vir Hom: “Ja, Here, ek glo dat U die Christus is, die •Seun van God, Hy wat na die wêreld kom. ”
28En nadat Martha dit gesê het, het sy gegaan, haar suster Maria eenkant toe geroep, en vir haar gesê: “Die Leermeester is hier, en Hy roep jou.” 29Toe Maria dit hoor, het sy haastig opgestaan en na Hom gegaan. 30 Jesus het nog nie in die dorpie aangekom nie, maar was steeds op die plek waar Martha Hom ontmoet het. 31Toe die Jode wat by haar in die huis was en haar vertroos het, sien dat Maria haastig opstaan en uitgaan, het hulle haar gevolg, omdat hulle gedink het sy gaan na die graf om daar te huil. 32Toe Maria aankom waar Jesus was en Hom sien, het sy by sy voete neergeval en vir Hom gesê: “Here, as U hier was, sou my broer nie gesterf het nie.” 33Toe Jesus haar sien huil, en dat ook die Jode huil wat saam met haar gekom het, het dit Hom hewig ontstel, en Hy het diep bewoë geword. 34Hy sê toe: “Waar het julle hom neergelê?” Hulle sê vir Hom: “Here, kom kyk.” 35 Jesus het begin huil. 36Daarop het die Jode gesê: “Kyk hoe lief het Hy hom gehad!” 37Maar sommige van hulle het gesê: “Kon Hy wat die oë van die blinde man oopgemaak het, tog nie voorkom het dat hierdie man sterf nie?”
Opwekking van Lasarus
38Jesus het toe, opnuut hewig ontsteld, na die graf gegaan. Dit was 'n rotsgraf en 'n groot klip het daarteen gelê. 39Jesus het gesê: “Vat die klip weg.” Martha, die suster van die oorledene, sê toe vir Hom: “Here, hy ruik reeds, want dit is al die vierde dag.” 40Jesus sê vir haar: “Het Ek dan nie vir jou gesê dat as jy glo, jy die heerlikheid van God sal sien nie?” 41Hulle het toe die klip weggeskuif. Jesus het sy oë opgehef na bo en gesê: “Vader, Ek dank U dat U My verhoor het. 42Ek weet dat U My altyd verhoor, maar Ek het dit gesê ter wille van die skare wat hier rondom staan, sodat hulle kan glo dat U My gestuur het. ” 43En nadat Hy dit gesê het, roep Hy met 'n harde stem: “Lasarus, kom uit!” 44Die oorledene het uitgekom. Sy voete en hande was met grafdoeke vasgebind, en sy gesig met 'n kopdoek toegedraai. Jesus sê vir hulle: “Maak hom los en laat hom gaan.”
Sameswering teen Jesus
(Matt 26:1-5; Mark 14:1-2; Luk 22:1-2)
45 Baie van die Jode wat na Maria toe gekom en gesien het wat Jesus gedoen het, het in Hom geglo. 46Maar sommige van hulle het na die •Fariseërs gegaan en vir hulle vertel wat Jesus gedoen het. 47Gevolglik het die leierpriesters en die Fariseërs die Sanhedrin byeengeroep en gesê: “Wat gaan ons maak? Want hierdie man doen baie tekens. 48As ons hom so laat aangaan, sal almal in hom glo, en sal die Romeine kom en ons plek en ons volk vernietig.” 49 En een van hulle, Kajafas, wat daardie jaar hoëpriester was, het vir hulle gesê: “Julle verstaan niks nie. 50Julle besef nie dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en die hele volk nie ondergaan nie.” 51En dit het hy nie uit sy eie gesê nie, maar, omdat hy daardie jaar hoëpriester was, het hy geprofeteer dat Jesus vir die volk sou sterf – 52 en nie net vir die volk nie, maar ook om die kinders van God wat oral verstrooi is, te verenig. 53Van daardie dag af het hulle saam beraadslaag om Hom dood te maak.
54Daarom het Jesus nie meer openlik onder die Jode rondgegaan nie, maar daarvandaan vertrek na die streek naby die woestyn, na 'n dorp met die naam Efraim. En daar het Hy saam met sy dissipels vertoef.
55Die Joodse Pasga was naby, en baie mense het voor die Pasga van die platteland na Jerusalem opgegaan om hulleself te reinig. 56 Hulle was op die uitkyk vir Jesus; en waar hulle op die tempelterrein gestaan het, het hulle vir mekaar gesê: “Wat dink julle? Dat Hy glad nie na die fees sal kom nie?” 57Die leierpriesters en die Fariseërs het reeds opdrag gegee dat as enigiemand weet waar Jesus is, hy dit moes rapporteer, sodat hulle Hom kon arresteer.

Tans Gekies:

Johannes 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid