Jesaja 58

58
1“Roep hard uit!
Moenie terughou nie!
Verhef jou stem soos 'n •ramshoring!
Maak aan my volk
hulle oortredings bekend,
aan die huis van Jakob
hulle sonde!
2Vir My raadpleeg hulle dag ná dag;
kennis van My weë begeer hulle.
Soos 'n nasie wat geregtigheid uitleef
en nie afwyk van sy God
se beslissings nie,
vra hulle My oor
regverdige beslissings;
die nabyheid van God begeer hulle.
3‘Waarom vas ons,
maar U sien dit nie raak nie,
verootmoedig ons ons,
maar U merk dit nie op nie?’
Kyk, op julle vasdag
kry julle kans vir besigheid,
en jaag julle al julle werknemers aan.
4Kyk, net om te twis
en rusie te maak, vas julle,
en om genadeloos
met die vuis te slaan.
Julle vas nie vandag om julle stem
in die hoogte te laat hoor nie.
5 Is die vas wat Ek verkies dan so,
'n dag van verootmoediging
vir 'n mens?
Is dit om die hoof te buig soos 'n biesie,
en in sak en as te lê?
Is dit wat julle vas noem?
is dit 'n dag wat die Here
se goedkeuring wegdra?
6 Is dit nie hierdie vas
wat Ek verkies nie,
dat julle die boeie
van goddeloosheid losmaak,
die stroppe van die juk
stukkend ruk,
verdruktes vry wegstuur
en elke juk breek?
7 Is dit nie bedoel om vir
hongeriges jou brood te breek,
om aan magteloses
en haweloses onderdak te bied nie?
Wanneer jy iemand sien
wat kaal is, moet jy hom bedek,
en jou nie afsydig hou van jou
eie vlees en bloed nie.”
8 Dan sal jou lig deurbreek
soos die oggendskemering;
en jou herstel
sal spoedig aanbreek.
Jou geregtigheid sal jou vooruitloop;
die heerlikheid van die Here
sal jou agterhoede dek.
9 Dan sal jy roep en die Here
sal antwoord.
Jy sal om hulp roep,
en Hy sal sê: “Hier is Ek!”
As jy die juk uit jou midde verwyder,
die vingerwysery
en verderflike gepraat,
10as jy hulle wat honger is,
jou empatie laat ervaar,
die mens wat verdruk word,
versadig laat word,
sal jou lig in die duisternis skyn;
jou donkerte sal soos helder dag wees.
11 Die Here sal jou voortdurend lei;
in dor plekke sal Hy jou keel verkwik,
jou gebeente sal Hy sterk maak.
Jy sal soos 'n natgeleide tuin wees,
soos 'n waterbron waarvan
die water nie teleurstel nie.
12 Sommige uit jou sal die oeroue
puinhope herbou,
die fondamente van geslagte gelede
sal jy weer oprig.
Jy sal genoem word:
die een wat bresse toebou,
die een wat paaie herstel,
sodat mense daar kan woon.
13 As jy jou voet terughou
van die Sabbat,
jou daarvan weerhou
om te doen wat jy wil
op my heilige dag,
en die Sabbat 'n vreugde noem,
eerbied toon vir dit wat heilig is
vir die Here,
die dag eer deur nie te doen
wat jy gewoonlik doen nie,
deur nie geleentheid te vind
om jou besigheid te doen
en 'n saketransaksie
te bespreek nie,
14dan sal jy jou vreugde vind
by die Here.
“Ek sal jou laat ry op die hoogtes
van die aarde.
Ek sal jou die erfenis van jou vader
Jakob laat geniet.”
Ja, die mond van die Here
het gespreek.

Tans Gekies:

Jesaja 58: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid