Jesaja 43

43
1 “Maar nou,” so sê die Here,
jou Skepper, Jakob,
die Een wat jou gevorm het, Israel,
“moenie bang wees nie,
want Ek het jou losgekoop,
Ek het jou op jou naam geroep –
aan My behoort jy.
2 As jy deur water moet gaan –
Ek is by jou,
of deur riviere –
hulle sal jou nie oorspoel nie.
As jy deur vuur moet gaan –
jy sal nie geskroei word nie,
en die vlam sal jou nie brand nie.
3 Want Ek is die Here, jou God,
die Heilige van Israel,
jou verlosser.
Ek gee Egipte as jou losprys,
Kus en Seba gee Ek in jou plek.
4 Omdat jy kosbaar is in my oë,
geëer is,
omdat Ek die Een is wat jou liefhet,
gee Ek mense in jou plek,
volke in ruil vir jou lewe.
5 Moenie bang wees nie,
want Ek is by jou.
Uit die ooste bring Ek jou nageslag,
uit die weste maak Ek jou bymekaar.
6Ek sê vir die noorde, ‘Gee!’
en vir die suide,
‘Moenie gevange hou nie!
Bring my seuns van ver,
en my dogters van die einde
van die aarde af.
7 Elkeen wat na my Naam genoem is –
tot my eer het Ek hom geskep,
hom gevorm, ja, hom gemaak.’ ”
8 Laat 'n volk
wat blind is, en tog oë het,
wat doof is, en tog ore het,
na vore tree.
9Al die nasies is byeengebring,
die volke het bymekaargekom.
Wie onder hulle kan die saak stel,
vir ons die dinge van vroeër verklaar?
Hulle moet hulle getuies bring,
sodat hulle gelyk gegee kan word.
Die getuies moet luister,
sodat hulle kan sê: “Dit is waar.”
10“ Julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“my dienskneg wat Ek uitgekies het,
sodat julle My kan ken,
in My kan glo,
en kan insien dat dit Ek is.
Voor My is daar nie 'n god gevorm nie,
en ná My sal daar nie een wees nie.
11Ek, ja, Ek is die Here,
en daar is geen verlosser
buiten My nie.
12Ek is die Een
wat dit bekend gemaak het;
Ek het verlos
en dit aangekondig –
Ek, nie 'n vreemde onder julle nie.
En julle is my getuies,”
is die uitspraak van die Here,
“dat Ek God is.
13Ook voortaan is Ek die Een;
uit my hand kan niemand red nie.
Ek sal optree,
en wie kan dit ongedaan maak? ”
14 So sê die Here,
julle losser,
die Heilige van Israel:
“Ter wille van julle
stuur Ek iemand na Babel;
Ek laat vlugtelinge ondergaan, almal van hulle,
die Galdeërs, op die skepe
waaroor hulle jubel.
15Ek is die Here, julle Heilige,
die Skepper van Israel,
julle Koning.”
16 So sê die Here,
wat in die see 'n pad maak,
'n deurgang in die magtige waters,
17 wat strydwaens en perde laat opruk,
'n leërmag, ja, 'n magtige een
– saam lê hulle daar,
hulle staan nie op nie;
hulle is geblus,
soos 'n lamppit
uitgedoof –
18“ Moenie dinge van vroeër
in herinnering roep nie;
op vorige gebeure moet julle
nie die aandag vestig nie.
19Kyk, Ek gaan iets nuuts doen,
dit gaan nou uitspruit.
Kan julle dit nie besef nie?
Selfs in die woestyn sal Ek 'n pad maak,
in die wildernis riviere.
20 Die wilde diere sal My eer,
die jakkalse en steenuile,
omdat Ek water in die woestyn,
ja, riviere in die wildernis gee,
om my uitverkore volk
te laat drink.
21Die volk wat Ek vir my gevorm het –
my lof sal hulle verkondig.
22“ Dit is nie vir My wat jy
aangeroep het nie, Jakob;
trouens, jy het moeg geraak vir My,
Israel.
23Jy het nie vir My die kleinvee
van jou •brandoffers gebring nie;
met jou slagoffers het jy My
nie vereer nie.
Ek het jou nie belas
met •graanoffers nie,
jou nie vermoei
deur wierook te eis nie.
24Jy het nie vir My met geld
kalmoes gekoop nie;
met die vet van jou slagoffers
het jy My nie verkwik nie.
Nee, jy het My met jou sondes belas,
My met jou sondeskuld vermoei.
25 Ek, ja, Ek is die Een
wat ter wille van Myself
jou oortredings telkens uitgewis het,
jou sondes nie in herinnering
geroep het nie.
26Kla My aan!
Laat ons saam die saak beslis.
Stel jy jou saak,
sodat jy gelyk gegee kan word.
27 Jou eerste voorvader het gesondig;
jou woordvoerders
het teen My oortree.
28Toe het Ek die heilige
•hoë amptenare ontwy.
Ek het Jakob aan volledige
vernietiging oorgegee,
en Israel aan beledigings.

Tans Gekies:

Jesaja 43: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid