Hebreërs 2

2
Ernstige vermaning
1Daarom moet ons soveel te meer aandag gee aan dit wat ons gehoor het, sodat ons nie dalk wegdryf nie. 2Want as die boodskap wat deur engele verkondig is, inderdaad bindend was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regmatige straf ontvang het, 3hoe sal ons ontvlug as ons so 'n groot verlossing verontagsaam? Hierdie verlossing is eers deur die Here verkondig, en daarna aan ons bevestig deur hulle wat dit gehoor het, 4terwyl God dit verder bevestig het deur tekens en wonders en allerhande kragtige dade, en deur gawes van die Heilige Gees, wat uitgedeel is soos Hy dit goedgevind het.
Jesus broer van mense
5Want Hy het die komende wêreld waarvan ons praat, nie aan engele onderwerp nie. 6Maar iewers het iemand dit uitdruklik bevestig en gesê:
“Wat is die mens
dat U aan hom dink,
of die mensekind,
dat U na hom omsien?
7U het hom vir 'n kort rukkie
minder as engele gemaak,
en hom met heerlikheid
en eer gekroon;
8U het alles onder sy voete gestel. ”
Deur alles aan hom te onderwerp, het Hy immers niks oorgeslaan wat nie aan hom onderwerp is nie. Nou sien ons egter nog nie dat alles aan hom onderwerp is nie. 9Maar ons sien Jesus, met heerlikheid en eer gekroon, Hy wat deur sy lyding tot in die dood vir 'n kort rukkie minder as die engele gemaak is, sodat Hy, deur God se genade, ter wille van almal die dood sou ervaar.
10Dit was immers gepas dat Hy, vir en deur wie alles bestaan, ten einde baie kinders tot heerlikheid te lei, die Leidsman van hulle verlossing deur lyding tot volmaaktheid sou bring. 11Want sowel Hy wat heilig maak as hulle wat heilig gemaak word, is almal uit Een. Om hierdie rede is Jesus nie skaam om hulle sy broers te noem nie, 12wanneer Hy sê:
“Ek sal u Naam
aan my broers verkondig,
in die byeenkoms
sal Ek u lof besing!”
13En ook:
“Ek sal my vertroue
steeds in Hom stel.”
En ook:
“Kyk, hier is Ek en die kinders
wat God My gegee het!”
14Aangesien die kinders dan aan vlees en bloed deel het, het ook Hy net so aan dieselfde dinge deel gekry, sodat Hy deur sy dood die een wat oor die dood mag het, dit is die Duiwel, kragteloos kon maak, 15en sodat Hy hulle wat uit vrees vir die dood hulle lewe lank in slawerny verkeer het, kon bevry. 16Want Hy is vir seker nie oor engele besorg nie; inteendeel, Hy is oor Abraham se nageslag besorg. 17Daarom moes Hy in elke opsig gelyk word aan sy broers, sodat Hy 'n barmhartige en getroue Hoëpriester kon word, om as offer te dien tot versoening van die volk se sondes. 18 Want omdat Hy self gely het toe Hy versoek is, is Hy in staat om dié wat versoek word, te help.

Tans Gekies:

Hebreërs 2: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid