Genesis 39

39
Josef en Potifar
1 Josef is afgebring na Egipte. Potifar, 'n paleisamptenaar van die farao en die hoof van die lyfwag, 'n Egiptiese man, het hom gekoop by die Ismaeliete wat hom daarheen afgebring het.
2 Die Here was met Josef, en hy was 'n suksesvolle man. Hy was werksaam in die huis van sy eienaar, die Egiptenaar. 3Toe sy eienaar merk dat die Here met Josef is, en dat die Here alles wat hy doen, laat slaag deur sy hand, 4 het Josef guns gevind in sy oë en sy persoonlike bediende geword. Hy het hom aangestel oor sy huishouding, en alles wat aan hom behoort, het hy onder Josef se beheer geplaas. 5 Vandat hy hom in sy huishouding en oor alles wat hy besit, aangestel het, het die Here die huis van die Egiptenaar geseën ter wille van Josef. Die seën van die Here het gerus op alles wat hy besit, in die huis en in die veld. 6 Hy het alles wat aan hom behoort, in Josef se hande gelaat. Met hom daar, het hy hom met niks bemoei nie, behalwe met die kos wat hy eet.
Josef het 'n mooi voorkoms gehad en was besonder aantreklik. 7 Ná verloop van tyd het die vrou van sy eienaar Josef reguit aangekyk en gesê: “Kom lê by my!” 8 Maar hy het geweier en vir die vrou van sy eienaar gesê: “Kyk, met my hier bemoei my heer hom met niks in die huis nie. Alles wat hy besit, het hy in my hande gelaat. 9 Hy is in hierdie huis nie belangriker as ek nie. Hy het van my niks weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek dan hierdie verskriklike kwaad doen en teen God sondig?” 10Alhoewel sy dag ná dag met Josef gepraat het, het hy nie aan haar gehoor gegee om langs haar te gaan lê en by haar te wees nie.
11Toe hy egter op 'n sekere dag in die huis ingaan om sy werk te doen en daar niemand van die huiswerkers in die huis was nie, 12 pak sy hom aan sy kleed beet en sê: “Kom lê by my!” Hy het egter sy kleed in haar hand agtergelaat en gevlug; hy het na buite uitgegaan. 13Toe sy sien dat hy sy kleed in haar hand agtergelaat en na buite gevlug het, 14roep sy haar huiswerkers en sê vir hulle: “Sien julle! Hy het vir ons 'n Hebreeuse man gebring sodat hy hom met ons kan vermaak. Hy het na my toe ingekom om by my te lê, maar ek het hard geskreeu. 15Toe hy hoor dat ek uitroep en skreeu, het hy sy kleed hier langs my laat lê en gevlug; hy het buitentoe gegaan.”
16Sy het sy kleed langs haar neergesit totdat sy eienaar tuisgekom het. 17 Sy het dieselfde woorde vir hom gesê: “Die Hebreeuse slaaf wat jy vir ons gebring het, het na my toe gekom om hom met my te vermaak! 18Toe ek hard uitroep en skreeu, het hy sy kleed langs my agtergelaat en na buite gevlug.”
19Toe sy eienaar die woorde van sy vrou hoor, dit wat sy vir hom gesê het, “Dít is die dinge wat jou slaaf aan my gedoen het,” het hy kwaad geword. 20 Josef se eienaar het hom gevat en hom in die gevangenis gegooi, die plek waar die koning se gevangenes aangehou is.
Hy was daar in die gevangenis, 21 maar die Here was met Josef en het in sy troue liefde na hom uitgereik. Hy het aan hom guns geskenk in die oë van die hoof van die gevangenis. 22Die hoof van die gevangenis het al die gevangenes wat in die gevangenis was, onder Josef se beheer geplaas. Alles wat daar gedoen moes word, het hy gedoen. 23 Die hoof van die gevangenis het nie omgesien na enigiets wat onder Josef se beheer was nie, want die Here was met hom; en wat hy gedoen het, het die Here laat slaag.

Tans Gekies:

Genesis 39: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid