Genesis 2:4-25

Genesis 2:4-25 AFR20

Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die HERE God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword. Die HERE God het 'n tuin aangeplant in Eden, in die ooste en die mens wat Hy gevorm het, daar geplaas. Die HERE God het uit die grond allerhande bome laat uitspruit – 'n genoeë om na te kyk en goed om van te eet. Die boom van die lewe was in die middel van die tuin, en ook die boom van die kennis van goed en kwaad. 'n Rivier vloei uit Eden om die tuin nat te maak, en van daar af vertak dit. Dit word vier hoofstrome. Die naam van die eerste is Pison. Dit is die een wat vloei om die hele land Gawila, waar daar goud is. Die goud van daardie landstreek is goed. Daar is ook balsemhars en •oniksgesteentes. Die naam van die tweede rivier is Gihon. Dit is die een wat om die hele land Kus vloei. Die naam van die derde rivier is Hiddekel. Dit is die een wat aan die oostekant van Assirië vloei. Die vierde rivier is die Eufraat. Die HERE God het die mens geneem en hom in die tuin van Eden geplaas om dit te bewerk en op te pas. Die HERE God het die mens beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag wanneer jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.” Die HERE God het ook gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom 'n helper maak, as sy gelyke.” Toe vorm die HERE God uit die grond al die diere van die veld en al die voëls van die hemel, en Hy bring hulle na die mens om te sien wat hy hulle sou noem; en wat ook al die mens 'n lewende wese genoem het, dit was sy naam. So het die mens name gegee vir al die mak diere en die voëls van die hemel en al die diere van die veld. Maar vir homself het hy nie 'n helper, as sy gelyke, gevind nie. Die HERE God het toe die mens in 'n diep slaap laat val, en terwyl hy slaap, het Hy een van sy ribbebene geneem en die plek daarvan met vleis toegemaak. Die HERE God het toe die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, omgebou tot 'n vrou, en haar na die mens gebring. Toe sê die mens: “Hierdie een is dié keer been uit my eie gebeente, vlees uit my eie vlees. Hierdie een sal vrou genoem word, want uit die man is sy geneem.” Daarom sal 'n man sy vader en moeder verlaat en hom aan sy vrou verbind, en hulle sal een vlees word. Hulle twee was naak, die mens en sy vrou, maar hulle was nie skaam vir mekaar nie.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Genesis 2:4-25

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid