Genesis 15

15
Verbond met Abram
1 Ná verloop van tyd het die woord van die Here tot Abram gekom in 'n visioen:
“Moenie bang wees nie, Abram!
Ek is 'n skild vir jou.
Jou loon is baie groot.”
2Maar Abram het gesê: “Here, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” 3Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie 'n nageslag gegee nie. Kyk, 'n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.”
4 Maar kyk, die woord van die Here kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” 5 Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” 6 Hy het die Here geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.
7 Die Here het vir hom gesê: “Ek is die Here wat jou uit Ur van die Galdeërs uitgelei het om aan jou hierdie land te gee om dit in besit te neem.” 8 Hy het gevra: “Here, my Heer, waaraan sal ek weet dat ek dit in besit sal neem?” 9Toe sê die Here vir hom: “Bring vir My 'n drie jaar oud verskalf, 'n drie jaar oud bok, 'n drie jaar oud skaapram, 'n tortelduif en 'n jong duif.” 10 Abram het dit alles vir Hom gebring en middeldeur gesny. Toe plaas hy die dele teenoor mekaar. Die voëls het hy egter nie deurgesny nie. 11Roofvoëls het op die dooie diere toegesak, maar Abram het hulle verwilder.
12Toe die son besig is om onder te gaan, het 'n diep slaap Abram oorval. Meteens oorval skrik, 'n groot duisternis, hom. 13 Die Here sê toe vir Abram: “Weet baie goed dat jou nageslag •vreemdelinge sal wees in 'n land wat nie aan hulle behoort nie. Hulle sal daardie mense moet dien, en dié sal hulle verdruk, vierhonderd jaar lank. 14 Maar ook die nasie vir wie hulle moet dien, gaan Ek oordeel. Daarna sal hulle uittrek met 'n menigte besittings. 15 Wat jou betref, jy sal in vrede na jou voorouers gaan en op 'n hoë ouderdom begrawe word. 16 Die vierde geslag sal hierheen terugkeer. Want die •Amoriete se sondeskuld het nog nie sy volle maat bereik nie.”
17Toe die son ondergegaan het, en dit skemerdonker was – kyk, toe is daar die rook van 'n oond en die vuur van 'n fakkel wat tussen daardie stukke deurbeweeg. 18 Op daardie dag het die Here met Abram 'n verbond gesluit: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier – 19die gebied van die Keniete, Kenissiete, Kadmoniete, 20Hetiete, Feresiete, Refaïete, 21Amoriete, Kanaäniete, Girgasiete en Jebusiete.”

Tans Gekies:

Genesis 15: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid