Esegiël 3

3
1 Hy sê toe vir my: “Mensekind, wat jy nou kry, moet jy eet. Eet hierdie •boekrol en gaan praat met die huis van Israel.” 2Ek het my mond oopgemaak, en Hy het my daardie boekrol laat eet. 3Toe sê Hy vir my: “Mensekind, jou maag moet jy voed, en jou ingewande moet jy vul met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Ek het dit geëet, en dit was so soet soos heuning in my mond.
4 Toe sê Hy vir my: “Mensekind, gaan na die huis van Israel en sê vir hulle my woorde, 5want jy word nie na 'n volk gestuur met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal nie, maar na die huis van Israel – 6nie na baie volke met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal waarvan jy die woorde nie begryp nie. Ek verseker jou, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle wel na jou geluister het, 7maar die huis van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie na My luister nie. Ja, die hele huis van Israel is hardkoppig en hard van hart. 8 Kyk, Ek maak jou gesig net so stug soos hulle s'n, en Ek maak jou net so hardkoppig soos hulle. 9Soos 'n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy mag nie vir hulle bang wees en jy mag jou nie deur hulle laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. ”
10Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, al my woorde wat Ek vir jou sê, neem dit ter harte, en luister met gespitste ore. 11Gaan dan na die ballinge, na jou volksgenote. Praat met hulle en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die Here,’ of hulle nou luister of verseg om te luister.”
12'n Gees het my opgelig, en ek het agter my die geluid van 'n harde dreuning gehoor toe die heerlikheid van die Here van sy plek af opstyg, 13 ook die geluid van die wesens se vlerke wat teen mekaar klap, die geluid van die wiele langs hulle en die geluid van die harde dreuning. 14'n Gees het my opgelig en my weggeneem. Ek het gegaan – bitter en ontstemd in my gemoed. Die hand van die Here was ferm oor my. 15Ek het by die ballinge uitgekom wat in Tel Aviv, langs die Kebarrivier woon; en daar waar hulle woon, daar het ek sewe dae lank tussen hulle gesit, heeltemal verbysterd.
16 Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: 17“ Mensekind, as 'n wag stel Ek jou aan vir die huis van Israel. Wanneer jy uit my mond woorde hoor, moet jy hulle namens My waarsku. 18Wanneer Ek vir 'n goddelose sê dat hy beslis sal sterf, en jy waarsku hom nie, jy praat nie om die goddelose te waarsku teen sy goddelose lewenswyse, sodat hy kan leef nie, sal hy, die goddelose, sterf oor sy sondeskuld; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis. 19Maar jy, as jy 'n goddelose waarsku, en hy bekeer hom nie van sy goddeloosheid en sy goddelose lewenswyse nie, sal hy deur sy sondeskuld sterf, en jy, jy het dan jou eie lewe gered.
20“Wanneer 'n regverdige van sy regverdige lewe afwyk en onreg pleeg, en Ek 'n struikelblok voor hom neersit, sal hy sterf. As jy hom nie waarsku teen sy sonde nie, sal hy sterf; sy regverdige dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie. Sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. 21En jy, as jy 'n regverdige waarsku om nie te sondig nie, en hy, die regverdige, sondig nie, sal hy beslis bly leef, omdat hy hom laat waarsku het; en jy, jy het dan jou eie lewe gered.”
22Die hand van die Here het daar oor my gekom, en Hy het vir my gesê: “Staan op, gaan na die laagte toe, daar sal Ek met jou praat.” 23Ek het toe opgestaan en uitgegaan na die laagte. En kyk, daar staan die heerlikheid van die Here, net soos die heerlikheid wat ek gesien het langs die Kebarrivier. Ek het neergeval met my gesig teen die grond. 24'n Gees het oor my gekom en my regop laat staan. Die Here het met my gepraat en vir my gesê: “Gaan, sluit jouself binne-in jou huis toe. 25 Wat jou betref, mensekind, kyk, toue sal om jou gesit word en jy sal daarmee vasgebind word, sodat jy nie meer kan uitgaan om tussen die mense te wees nie. 26Jou tong sal Ek aan jou verhemelte laat kleef. Jy sal stom wees, en nie meer iemand wat hulle teregwys nie, want hulle is 'n rebelse huis. 27Maar wanneer Ek met jou praat, sal Ek jou mond oopmaak. Dan moet jy vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die Here.’ Wie luister, sal luister, en wie verseg om te luister, sal verseg om te luister, want hulle is 'n rebelse huis.”

Tans Gekies:

Esegiël 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid