Eksodus 13:17-22

Eksodus 13:17-22 AFR20

Toe die farao die volk laat gaan het, het God hulle nie gelei op die pad na die land van die Filistyne nie, al was dit nader; want God het gesê: “Anders kry die volk spyt wanneer hulle oorlog in die gesig staar, en keer hulle terug na Egipte.” God het toe die volk 'n ompad laat neem met die woestyn langs na die Rietsee. Die Israeliete het in slagorde uit Egipteland opgetrek. Moses het die beendere van Josef met hom saamgeneem, want Josef het die Israeliete plegtig 'n eed laat aflê; hy het gesê: “God sal beslis na julle omsien, dan moet julle my beendere hiervandaan saam met julle neem.” Hulle het van Sukkot af weggetrek en kamp opgeslaan by Etam, aan die rand van die woestyn. Die HERE het bedags in 'n wolkkolom voor hulle uitgegaan om hulle op die pad te lei, en snags in 'n vuurkolom om aan hulle lig te verskaf, sodat hulle bedags en snags kon trek. Die wolkkolom het bedags en die vuurkolom snags, nie voor die volk weggegaan nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid