Ester 3

3
Konflik tussen Haman en Mordegai
1 Ná hierdie dinge het koning Ahasveros Haman, seun van Hammedata die Agagiet, vereer, hom bevorder en aan hom 'n hoër posisie gegee as dié van al die ander •hoë amptenare wat by hom was. 2 Al die dienaars in die koningspoort het gekniel en diep neergebuig voor Haman, want dit is wat die koning beveel het. Mordegai het egter nie gekniel en diep neergebuig nie. 3Die dienaars van die koning in die koningspoort het vir Mordegai gevra: “Hoekom verontagsaam jy die bevel van die koning?” 4Toe hulle dit dag ná dag vir hom gevra het, en hy hom steeds nie aan hulle gesteur het nie, het hulle dit vir Haman vertel. Hulle wou sien of Mordegai sou volhard met sy optrede, aangesien hy aan hulle verduidelik het dat hy 'n Jood is. 5 Toe Haman sien dat Mordegai nie voor hom kniel en diep neerbuig nie, het hy woedend geraak. 6 Dit was nie vir hom voldoende om net vir Mordegai dood te maak nie; hy het immers te wete gekom aan watter volk Mordegai behoort. Haman het 'n geleentheid gesoek om al die Jode, die volk van Mordegai, in die hele koninkryk van Ahasveros uit te wis. 7 In die eerste maand, die maand Nisan, in die twaalfde regeringsjaar van koning Ahasveros, is die lot, bekend as die Pur, in die teenwoordigheid van Haman gewerp om 'n dag en 'n maand te kies. Die lot het geval op die twaalfde maand, die maand Adar.
8 Haman het vir koning Ahasveros gesê: “Daar is 'n sekere volk wat versprei, maar tog afgesonder, onder die volke in al die provinsies van u koninkryk woon. Hulle gebruike verskil van enige ander volk en hulle gehoorsaam nie die wette van die koning nie. Dit is nie gepas vir die koning om hulle te laat begaan nie. 9 As dit die koning se goedkeuring wegdra, vaardig 'n dekreet uit dat hulle uitgewis moet word. Ek sal dan tienduisend kikkar silwer oordra aan die amptenare wat die koning se sake hanteer om dit in die koning se skatkis te stort.” 10 Die koning het sy seëlring van sy hand afgehaal en dit vir Haman, die seun van Hammedata, die Agagiet, teenstander van die Jode, gegee. 11Die koning het vir Haman gesê: “Die silwer word aan jou gegee, en maak met die volk soos dit goed is in jou oë.”
12 Die skrywers van die koning is ontbied op die dertiende van die eerste maand. Daar is 'n dekreet uitgevaardig in die skrif van elke provinsie en die taal van elke volk, in ooreenstemming met alles wat Haman die satrape van die koning, die •streekgoewerneurs oor elke provinsie en die hoë amptenare van elke volk beveel het. In die naam van koning Ahasveros is dit geskryf en verseël met die seëlring van die koning. 13 Hierdie briewe is met hardlopers gestuur na al die provinsies van die koning met die opdrag om die Judeërs uit te wis en dood te maak, om almal te verdelg, oud en jonk, vrou en kind, op dieselfde dag, die dertiende van die twaalfde maand, die maand Adar, en om hulle besittings buit te maak. 14 'n Afskrif van die dekreet moes in elke provinsie uitgevaardig word as wet. Die inhoud daarvan moes aan al die mense bekend gemaak word sodat hulle gereed kon wees vir daardie dag. 15 Die boodskappers het op bevel van die koning haastig vertrek. Die wet is uitgevaardig in die vestingstad Susan. Die koning en Haman het gaan sit om te drink, maar die stad Susan was in beroering.

Tans Gekies:

Ester 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid