Deuteronomium 6

6
1“ Dit dan is die gebod, die vaste voorskrifte en beslissings wat die Here julle God my beveel het om julle te leer, dat julle dit kan uitleef in die land waarheen julle oortrek om dit in besit te neem – 2sodat jy ontsag mag hê vir die Here jou God, deur al sy vaste voorskrifte en gebooie wat ek jou beveel, na te kom so lank jy leef, jy en jou kinders en jou kleinkinders, en sodat jy 'n lang lewe mag hê. 3Jy moet luister, Israel; kom dit nougeset na dat dit met jou goed mag gaan en dat julle baie meer mag word soos wat die Here die God van jou voorouers jou beloof het – 'n land wat oorloop van melk en heuning.”
Diens aan die Here alleen
4Luister, Israel, die Here is ons God, die Here alleen. 5 Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. 6 En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra. 7 Herhaal dit vir jou kinders en praat met hulle daaroor wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op pad is, wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan. 8 Bind dit as 'n teken om jou hand en laat dit 'n versiering op jou voorkop wees. 9Skryf dit op die deurkosyne van jou huis en op jou stadspoorte.
10“ Wanneer die Here jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou voorvaders, aan Abraham, Isak en Jakob, met 'n eed beloof het om vir jou te gee – groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, 11huise vol met alles wat goed is, wat jy nie gevul het nie, uitgekapte opgaarputte wat jy nie uitgekap het nie, wingerde en olyfboorde wat jy nie geplant het nie, en jy dan eet en versadig word, 12moet jy oppas dat jy nie die Here vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. 13 Vir die Here jou God moet jy ontsag hê: Hom moet jy dien, en slegs in sy Naam moet jy sweer.
14“Julle mag nie agter ander gode aanloop nie, gode van die nasies rondom julle; 15 want die Here jou God wat in julle midde is, is 'n besitlike God. Anders sal die toorn van die Here jou God teen jou ontbrand, en dan gaan Hy jou van die aardbodem af uitdelg. 16 Julle mag nie die Here julle God uitdaag soos julle by Massa gedoen het nie.
17“ Julle moet die gebooie van die Here julle God sorgvuldig nakom, sy bepalings en vaste voorskrifte wat Hy jou opgedra het. 18Jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die Here, sodat dit met jou goed kan gaan en jy in die goeie land wat die Here met 'n eed aan jou voorvaders beloof het, kan ingaan en dit in besit kan neem 19deur al jou vyande voor jou te verjaag, soos die Here beloof het.
20 “Wanneer jou kind in die toekoms vir jou vra, ‘Wat is die bedoeling van die bepalings, die vaste voorskrifte en beslissings wat die Here ons God vir julle voorgeskryf het?’ 21dan moet jy vir jou kind sê, ‘Ons was slawe vir die farao in Egipte, maar die Here het ons met 'n sterk hand uit Egipte uitgelei. 22Die Here het in Egipte voor ons oë groot en skrikwekkende tekens van mag en wondertekens gedoen aan die farao en sy hele huis. 23Maar ons het Hy daarvandaan uitgelei sodat Hy ons hierheen kon bring om aan ons die land te gee wat Hy met 'n eed aan ons voorvaders beloof het. 24Die Here het ons beveel om volgens al hierdie vaste voorskrifte te leef en om vir die Here ons God ontsag te hê, sodat dit altyd met ons goed sal gaan en sodat Hy ons in die lewe sal hou soos dit vandag is. 25Dit sal tot ons heil strek as ons hierdie hele gebod nougeset nakom in die teenwoordigheid van die Here ons God, soos Hy ons beveel het.’ ”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid