Daniël 3

3
Drie manne in die vuuroond
1 Koning Nebukadnesar het 'n beeld van goud gemaak. Die hoogte was sestig el en die breedte ses el. Hy het dit opgerig in die vlakte van Dura in die provinsie Babel. 2Koning Nebukadnesar ontbied toe die satrape, landvoogde, •streekgoewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters en amptenare, ja, al die •hoë amptenare van die provinsies, om na die wydingsgeleentheid van die beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het, te kom. 3Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs, raadsmanne, skatmeesters, regters en amptenare, ja, al die hoë amptenare van die provinsies het toe byeengekom vir die wydingsgeleentheid van die beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. Hulle het voor die beeld wat Nebukadnesar opgerig het, gaan staan. 4 Daarna het 'n herout hardop uitgeroep: “Julle word beveel, volke, nasies en taalgroepe: 5 Sodra julle die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, moet julle neerval en eer betoon aan die goue beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. 6 Wie ook al nie neerval en eer betoon nie, sal dadelik binne-in die vlammende vuuroond gegooi word.”
7Daarom, die oomblik toe al die volke die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, ja, al die musiekinstrumente, het al die volke, nasies en taalgroepe neergeval en eer betoon aan die goue beeld wat koning Nebukadnesar opgerig het. 8 Juis op daardie oomblik het Galdese manne na vore getree en die Jode aangekla. 9 Hulle praat toe en sê vir koning Nebukadnesar: “O koning, leef vir ewig! 10 U, o koning, u het 'n bevel uitgevaardig dat elke mens wat die geluid van die horing, rietfluit, siter, lier en harp in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, hoor, moet neerval en aan die goue beeld eer betoon. 11En wie ook al nie neerval en eer betoon nie, sal binne-in die vlammende vuuroond gegooi word. 12 Daar is Joodse manne, Sadrag, Mesag en Abednego, vir wie u oor die administrasie van die provinsie Babel aangestel het. Hierdie manne het hulle nie aan u bevel, o koning, gesteur nie. Hulle dien nie u gode nie en betoon nie eer aan die goue beeld wat u opgerig het nie.”
13 Toe het Nebukadnesar, rasend van woede, beveel dat Sadrag, Mesag en Abednego gehaal moet word. Hierdie manne is toe voor die koning gebring. 14Nebukadnesar het begin deur vir hulle te sê: “Is dit regtig so, Sadrag, Mesag en Abednego, dat julle my gode nie dien nie en aan die goue beeld wat ek opgerig het, nie eer betoon nie? 15 Nou, as julle bereid is om, sodra julle die geluid hoor van die horing, rietfluit, siter, lier en harp, in harmonie, ja, al die musiekinstrumente, neer te val en aan die beeld wat ek gemaak het, eer te betoon, goed en wel. Maar as julle nie eer betoon nie, sal julle dadelik binne-in die vlammende vuuroond gegooi word. Wie is die god wat julle dan uit my hand sal red?” 16Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: “Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u 'n antwoord te gee nie. 17 As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. 18 Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.”
19Nebukadnesar was toe buite homself van woede en sy gesigsuitdrukking het verander teenoor Sadrag, Mesag en Abednego. Hy het daarop geantwoord deur bevel te gee dat die oond verhit moes word, sewe maal warmer as wat nodig was. 20Hy het manne, die sterkste manne in sy leër, beveel om Sadrag, Mesag en Abednego vas te bind en in die vlammende vuuroond te gooi. 21Hierdie manne is toe met hulle klere aan, in hulle mantels, broeke en tulbande, vasgebind en binne-in die vlammende vuuroond gegooi. 22As gevolg van die streng opdrag van die koning en die oond wat uitermate verhit was, het die vlamme van die vuur daardie manne wat vir Sadrag, Mesag en Abednego opgetel het, doodgebrand. 23 Maar hierdie drie manne, Sadrag, Mesag en Abednego, het vasgebind binne-in die vlammende vuuroond geval.
24Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” 25waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van 'n godeseun.”
26Daarop gaan Nebukadnesar nader na die opening van die vlammende vuuroond en sê toe: “Sadrag, Mesag en Abednego, diensknegte van die Allerhoogste God, kom uit en kom hier!” Toe kom Sadrag, Mesag en Abednego reg uit die vuuroond. 27 Die satrape, landvoogde, streekgoewerneurs en raadsmanne van die koning het byeengekom en merk toe aan hierdie manne dat die vuur nie mag gehad het oor hulle liggame nie, dat die hare op hulle koppe nie geskroei was nie, dat hulle mantels nie verander het nie, en dat daar geen brandreuk aan hulle was nie. 28 Nebukadnesar het daarop gereageer en gesê: “Die God van Sadrag, Mesag en Abednego moet geprys word, wat sy engel gestuur en sy diensknegte gered het – hulle wat op Hom vertrou het, die bevel van die koning verontagsaam en hulle liggame op die spel geplaas het, omdat hulle geen ander god behalwe hulle God sou dien en vereer nie. 29'n Bevel word deur my uitgevaardig dat enige volk, nasie en taal wat iets godslasterliks sê teen die God van Sadrag, Mesag en Abednego, se ledemate afgekap sal word en sy huis in 'n vullishoop omskep sal word. Want daar is nie 'n ander god wat so kan verlos nie.”
30Daarna het die koning Sadrag, Mesag en Abednego voorspoed laat beleef in die provinsie Babel.

Tans Gekies:

Daniël 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid