Kolossense 1

1
1Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus,
2aan die heiliges in Kolosse, gelowige broers in Christus:
Genade vir julle en vrede van God, ons Vader!
Danksegging
3 Elke keer wanneer ons vir julle bid, dank ons God, die Vader van ons Here Jesus •Christus. 4 Dit doen ons, want ons het gehoor van julle geloof in Christus Jesus, en die liefde wat julle vir al die •heiliges het, 5op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag. Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, 6julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei. 7Dit het julle geleer by Epafras, ons geliefde medewerker, wat ter wille van julle 'n getroue dienskneg van Christus is. 8Dit was ook hy wat ons vertel het van die liefde wat die Gees in julle bewerk het.
9Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, 10om 'n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede te stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God, 11en deur die mag van sy heerlikheid al die krag ontvang om geduldig in alles te volhard. Met blydskap 12moet julle die Vader dank, omdat Hy julle geskik gemaak het om deel te hê aan die heiliges se erfdeel in die lig.
Loflied aan die Seun
13God het ons uit die mag
van die duisternis gered,
en verplaas na die •koninkryk
van sy geliefde Seun –
14 deur wie ons bevryding,
die vergifnis van sondes
ontvang het.
15Die Seun is die beeld
van die onsigbare God,
die •Eersgeborene
oor die hele skepping;
16 want deur Hom
het God alles geskep:
alles in die hemel en op die aarde,
die sigbare en die onsigbare dinge,
of dit koninklike of heersende magte,
owerhede of gesagvoerders is –
alles is deur Hom
en tot Hom geskep.
17Hy het voor alles bestaan,
en in Hom hou alles stand.
18Hy is die Hoof van die liggaam,
die kerk.
Hy is die oorsprong,
die Eersgeborene uit die dood,
sodat Hy in alles
die eerste plek kon inneem;
19 want God het dit goedgevind
om die hele volheid
in Hom te laat woon,
20en om deur Hom alles,
ja, alles op aarde en in die hemel,
met Homself te versoen,
deurdat Hy vrede gebring het
deur sy bloed aan die kruis.
Versoening met God
21Ook julle was voorheen van Hom vervreem, ja, vyandiggesind teenoor Hom, op grond van julle slegte dade; 22maar nou het Hy julle deur sy menslike liggaam met Homself versoen, sodat Hy julle, deur sy dood, heilig en sonder foute en onberispelik voor Hom kan stel – 23mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, 'n dienaar geword het.
Bekendmaking van God se misterie
24Nou is ek bly oor die lyding wat ek om julle onthalwe verduur. Ja, met my liggaam vul ek die oorblywende deel van die verdrukkinge van •Christus aan, tot voordeel van sy liggaam, die •kerk, 25 waarvan ek 'n dienaar geword het, ooreenkomstig die bedieningstaak wat God aan my toevertrou het, om in julle belang die woord van God volledig bekend te maak. 26 Die misterie wat vir eeue en geslagte lank verborge was, is nou aan sy •heiliges bekend gemaak. 27God het besluit om aan hulle bekend te maak hoe ryk die heerlikheid van hierdie misterie vir alle nasies is: Christus is in julle, die hoop op die heerlikheid. 28Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan, en elke mens in alle wysheid onderrig, sodat ons elke mens voor God kan stel as volwasse in Christus. 29Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid