Handelinge 15

15
Vergadering in Jerusalem
1 Daar het sekere mense van Judea af gekom wat die broers aanhou leer het: “As julle nie besny word ooreenkomstig die gebruik van Moses nie, kan julle nie verlos word nie.” 2Aangesien hieroor meningsverskil ontstaan het, en Paulus en Barnabas met hulle 'n woordestryd gevoer het wat hoegenaamd nie onbenullig was nie, het hulle besluit dat Paulus en Barnabas en nog 'n paar ander uit hulle geledere na die •apostels en ouderlinge in Jerusalem moes opgaan oor hierdie strydvraag. 3Hulle is toe deur die •gemeente weggestuur, en het deur Fenisië en Samaria gereis en uitvoerig oor die bekering van die heidene berig, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf. 4 Toe hulle in Jerusalem aankom, is hulle deur die gemeente en die apostels en ouderlinge ontvang. Paulus en Barnabas het vertel wat God alles met hulle gedoen het. 5Sommige mense wat aan die •Fariseërs se party behoort en gelowig geword het, het egter opgestaan en gesê: “Hulle moet besny word en opdrag kry om die •Wet van Moses te onderhou.”
6Die apostels en die ouderlinge het toe bymekaargekom om hierdie saak in oënskou te neem. 7Toe 'n hewige woordestryd ontstaan, het •Petrus opgestaan en vir hulle gesê: “Broers, julle weet dat God my al van die vroeë dae af onder julle uitgekies het, sodat die heidene deur my prediking die boodskap van die evangelie hoor en tot geloof kom. 8En God, die kenner van harte, het dit bevestig deurdat Hy die Heilige Gees aan hulle, net soos aan ons, geskenk het. 9Hy het geen onderskeid getref tussen ons en hulle nie, want Hy het hulle harte deur die geloof gereinig. 10Waarom wil julle God dan nou toets deur 'n juk, wat nie ons of ons voorvaders kon dra nie, op die dissipels se nekke te plaas? 11 Maar ons glo dat ons op dieselfde manier as hierdie mense deur die genade van die Here Jesus verlos word.”
12Toe het die hele vergadering stilgebly en na Barnabas en Paulus geluister, terwyl hulle vertel van al die tekens en wonders wat God deur hulle onder die heidene gedoen het. 13Toe hulle ophou praat, het Jakobus gesê: “Broers, luister na my. 14 Simeon het verduidelik hoe God van die begin af toegesien het dat Hy uit die heidene 'n volk vir sy Naam sou verkry. 15Hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos daar geskryf staan:
16“ ‘Daarna sal Ek terugkom
en Ek sal die vervalle huis
van Dawid weer opbou,
en Ek sal die bouvalle daarvan
herbou en dit herstel,
17sodat die res van die mensdom
die Here kan soek,
ja, al die nasies oor wie my Naam
uitgeroep is.
So sê die Here, wat hierdie dinge doen’
18 wat van lank gelede bekend is.
19“ Daarom oordeel ek dat ons dit nie moeilik moet maak vir hulle wat uit die heidendom na God draai nie, 20maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery, van wat verwurg is, en van bloed. 21 Daar is tog van die vroegste geslagte af in elke dorp mense wat Moses verkondig en elke Sabbatdag in die •sinagoges voorlees.”
Besluite van die vergadering
22Hierna het die •apostels en ouderlinge, in oorleg met die hele •gemeente, besluit om manne wat uit eie geledere gekies is, saam met Paulus en Barnabas na Antiogië te stuur. Hulle was Judas, bekend as Barsabbas, en Silas, beide leiers onder die broers. 23Hulle het die volgende skrywe met hulle saamgestuur:
“Die apostels en ouderlinge, julle broers,
aan die broers uit die heidene in Antiogië, Sirië en Silisië:
Gegroet!
24“Aangesien ons gehoor het dat sommige mense wat van ons af gekom het, sonder dat ons hulle opdrag gegee het, julle met hulle woorde ontstel en julle gemoedere verwar het, 25het ons eenparig besluit om manne te kies en na julle te stuur saam met ons geliefde Barnabas en Paulus – 26mense wat hulle lewens oorgegee het vir die Naam van ons Here Jesus Christus. 27Ons het dus Judas en Silas gestuur, en hulle sal hierdie dinge mondeling aan julle bevestig. 28Die Heilige Gees en ons het daarom besluit om geen verdere las op julle te lê nie, behalwe die volgende vereistes: 29Bly weg van afgodsoffers, van bloed, van wat verwurg is en van hoerery. As julle julle hiervan weerhou, sal julle goed doen.
Laat dit met julle goed gaan.”
30So is die manne weggestuur, en hulle het na Antiogië gereis. Nadat hulle die gemeente bymekaar laat kom het, het hulle die brief oorhandig. 31Die gemeente het die brief gelees, en was verheug oor die bemoediging. 32Judas en Silas, wat self ook profete was, het die broers met baie woorde bemoedig en versterk. 33Hulle het 'n tyd lank daar gebly, en is toe in vrede deur die gelowiges teruggestuur na die mense wat hulle afgevaardig het. 35Paulus en Barnabas het 'n tyd lank in Antiogië gebly, en saam met baie ander onderrig gegee en die evangeliewoord van die Here verkondig.
Tweede sendingreis: Paulus en Barnabas uitmekaar
36'n Paar dae later het Paulus aan Barnabas gesê: “Kom ons gaan terug en besoek die broers in elke dorp waar ons die woord van die Here verkondig het, en gaan kyk hoe dit met hulle gaan.” 37Barnabas wou ook Johannes, bekend as Markus, saamneem, 38maar Paulus het nie gedink dat dit reg is om die man saam te neem wat hulle by Pamfilië in die steek gelaat en hulle nie vir die werk vergesel het nie. 39Daar het toe so 'n skerp meningsverskil tussen hulle ontstaan dat hulle uitmekaar gegaan het. Barnabas het vir Markus saamgeneem en na Ciprus gevaar. 40Paulus het vir Silas gekies en het vertrek, nadat hulle deur die broers aan die genade van die Here opgedra is. 41Hy het deur Sirië en Silisië gereis en die gemeentes daar versterk.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid