Handelinge 12

12
Vervolging in Jerusalem
1In daardie tyd het koning Herodes die hand geslaan aan sommige uit die •gemeente, om hulle leed aan te doen. 2Hy het Jakobus, die broer van Johannes, met die swaard laat doodmaak. 3En toe hy sien dat dit by die Jode byval vind, het hy verder gegaan en ook vir •Petrus gevange laat neem. Dit was die tyd van die Fees van die Ongesuurde Brood. 4Nadat hy hom laat arresteer het, het hy hom in die tronk laat gooi en oorgegee aan vier afdelings van vier soldate elk, met die bedoeling om hom ná die Pasga voor die volk te bring. 5So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar 'n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.
Bevryding van Petrus uit die tronk
6Die nag voordat Herodes hom wou voorbring, was •Petrus aan die slaap tussen twee soldate. Hy was met twee kettings geboei, en voor die deur het wagte die tronk bewaak. 7Skielik het 'n engel van die Here daar gestaan, en 'n lig het in die sel geskyn. Toe gee hy Petrus 'n stamp teen die sy, maak hom wakker en sê: “Staan gou op!” En die kettings het van sy hande afgeval. 8Die engel sê toe vir hom: “Omgord jou en trek jou sandale aan!” Hy het so gemaak. Daarop sê die engel vir hom: “Gooi jou bokleed om en volg my!” 9En hy het uitgegaan en hom gevolg, sonder om te besef dat wat deur die bemiddeling van die engel gebeur het, die werklikheid is. Hy het nog steeds gedink hy sien 'n gesig. 10 Maar toe hulle by die eerste en die tweede wag verby was, het hulle gekom by die ysterpoort wat na die stad lei, en dit het vanself vir hulle oopgegaan. Toe hulle buitekant kom en een straat verder gestap het, het die engel hom meteens verlaat. 11Toe kom Petrus tot homself en sê: “Nou besef ek waarlik die Here het sy engel gestuur, en Hy het my gered uit die hand van Herodes en ook van alles wat die Joodse volk verwag het.” 12Met dié besef gaan hy toe na die huis van Maria, die moeder van Johannes, bekend as Markus, waar daar baie mense byeen was en gebid het. 13Toe hy aan die deur van die poort klop, het 'n diensmeisie met die naam van Rode gegaan om te antwoord. 14Sy het Petrus se stem herken, en uit pure vreugde nie die deur oopgemaak nie, maar binnetoe gehardloop en vertel dat Petrus voor die poort staan. 15Hulle het egter vir haar gesê: “Jy is mal!” Maar sy het volgehou dat dit so is. Toe sê hulle: “Dit is sy engel.” 16Petrus het egter aanhou klop, en toe hulle oopmaak, het hulle hom gesien, en hulle was verbaas. 17Maar hy het met 'n handgebaar vir hulle beduie om stil te bly en vir hulle beskryf hoe die Here hom uit die tronk uitgelei het. Toe sê hy: “Vertel dit aan Jakobus en die broers.” En hy het buitentoe gegaan en na 'n ander plek vertrek.
18Teen dagbreek was daar onder die soldate geen geringe opskudding oor wat dan van Petrus geword het nie. 19Herodes het hom laat soek, maar nie gekry nie, en nadat hy die wagte verhoor het, het hy opdrag gegee dat hulle tereggestel word. Hierna het hy van Judea na Caesarea gereis en daar gebly.
Dood van Herodes
20Herodes was woedend vir die mense van Tirus en Sidon. Hulle het egter almal saam na hom gekom, en nadat hulle Blastus, wat toesig gehad het oor die koninklike slaapkamers, oorgehaal het, het hulle om vrede gevra, omdat die gebied waar hulle voedsel vandaan gekom het, afhanklik van die koning s'n was. 21Op die vasgestelde dag het Herodes 'n koninklike kleed aangetrek, op die regbank plaasgeneem en hulle toegespreek. 22 Daarop het die volk uitgeroep: “Die stem van 'n god en nie van 'n mens nie!” 23En onmiddellik het 'n engel van die Here hom neergevel, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie en, verteer deur wurms, het hy gesterf.
24 Maar die woord van God het gegroei en uitgebrei. 25En Barnabas en Saulus het, nadat hulle hulle diens in Jerusalem voltooi het, teruggekeer en Johannes, bekend as Markus, saamgeneem.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid