2 Timoteus 2

2
1Jy dan, my kind, wees sterk deur die genade in •Christus Jesus, 2en dra dit wat jy deur baie getuies van my gehoor het, oor aan betroubare mense wat bekwaam sal wees om ook ander te onderrig. 3Verduur jou deel van die ontbering, soos 'n goeie soldaat van Christus Jesus. 4'n Soldaat raak nie verstrik in sake van die alledaagse lewe nie, sodat hy sy bevelvoerder tevrede kan stel. 5Verder word 'n atleet wat aan 'n wedloop deelneem, nie bekroon as hy nie volgens die reëls meeding nie. 6 Die landbouer wat die harde werk doen, moet eerste van die oes kry. 7Dink na oor wat ek sê, want die Here sal jou insig gee in al hierdie dinge.
8Onthou altyd dat Jesus Christus, uit die nageslag van Dawid, opgewek is uit die dood volgens my evangelie, 9 waarvoor ek verdrukking ly – selfs in boeie, soos 'n misdadiger. Maar die woord van God is nie geboei nie! 10Daarom verduur ek dit alles ter wille van die uitverkorenes, sodat ook hulle die verlossing in Christus Jesus met ewige heerlikheid kan verkry. 11Dié uitspraak is betroubaar:
As ons saam met Hom gesterf het,
sal ons ook saam met Hom leef;
12as ons aanhou volhard,
sal ons ook saam met Hom regeer;
as ons Hom verloën,
sal Hy ons ook verloën;
13as ons ontrou is,
Hy bly getrou,
want Hy kan Homself
nie verloën nie.
Leiding aan die gemeente
14Herinner hulle aan hierdie dinge, en waarsku hulle ernstig voor God om nie te stry oor nuttelose woorde, wat dié wat dit aanhoor, ten gronde rig nie. 15Lê jou daarop toe om jou voor God te stel as iemand wat die toets deurstaan het, as 'n arbeider wat hom nie hoef te skaam nie, wat met die woord van die waarheid die reguit pad aandui. 16-17Vermy die goddelose, leë praatjies van mense, onder wie Himeneus en Filetus, want hulle sal toenemend goddeloos word, en hulle woorde sal soos 'n kanker versprei. 18Hulle het van die waarheid afgedwaal deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het, en sodoende gooi hulle sommige se geloof omver. 19Maar tog staan die fondament van God stewig, met hierdie inskripsie, “Die Here ken diegene wat aan Hom behoort” en, “Laat elkeen wat die Naam van die Here aanroep, die rug op ongeregtigheid keer.” 20In 'n groot huis is daar nie net goue en silwervoorwerpe nie, maar ook voorwerpe van hout en klei – sommige is vir fatsoenlike gebruik, ander onfatsoenlik.
21As iemand homself dan gereinig het van hierdie dinge, sal hy 'n fatsoenlike voorwerp wees: afgesonder, bruikbaar vir die Eienaar, geskik vir elke goeie werk. 22 Vlug weg van die begeertes van die jeug en streef, saam met diegene wat die Here met 'n rein hart aanroep, na regverdigheid, geloof, liefde en vrede; 23maar vermy die dwase en afbrekende twisgesprekke, omdat jy weet dat dit aanleiding gee tot rusies. 24'n Dienskneg van die Here moenie rusie maak nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig, geduldig, 25iemand wat teenstanders met sagtheid teregwys. Miskien mag God hulle tot bekering bring, sodat hulle die waarheid kan ken, 26en hulle tot hulle sinne laat kom – vry van die strik van die Duiwel, deur wie hulle gevange gehou word om te doen wat hy wil hê.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid