2 Samuel 18

18
1Dawid het die manskappe by hom gemonster en •aanvoerders van duisend en aanvoerders van honderd aangestel. 2Toe het Dawid die manskappe uitgestuur, 'n derde onder bevel van Joab, 'n derde onder bevel van Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, en 'n derde onder bevel van Ittai, die man uit Gat. Die koning het vir die manskappe gesê: “Ek gaan beslis ook saam met julle uittrek.” 3 Maar die manskappe het gesê: “U mag nie saam uittrek nie, want as ons wel moet vlug, sal hulle nie op ons ag slaan nie. En al sterf die helfte van ons, hulle sal nie op ons ag slaan nie, want u is so goed soos tienduisend van ons. Daarom is dit beter as u vir ons uit die stad tot hulp sal wees.” 4Die koning het hulle geantwoord: “Wat vir julle die beste lyk, sal ek doen.” Die koning het toe langs die stadspoort gaan staan, en al die manskappe het in eenhede van honderd en duisend uitgetrek. 5Die koning het Joab, Abisai en Ittai opdrag gegee: “Werk, ter wille van my, saggies met die jong man, met Absalom. ” Al die manskappe het gehoor toe die koning aan al die aanvoerders opdragte gee in verband met Absalom.
6Die manskappe het uitgetrek na die veld om teen Israel te staan te kom. Die geveg het plaasgevind in die beboste gebied van Efraim. 7Daar is die manskappe van Israel verslaan deur die dienaars van Dawid. Op daardie plek was daar dié dag 'n groot slagting – twintigduisend man. 8Van daar af het die geveg oor die hele gebied versprei. Die bosse het daardie dag meer lewens geëis as die swaard.
9Absalom het hom teen die dienaars van Dawid vasgeloop terwyl hy op 'n muil gery het, en toe die muil onder die takke van 'n groot terebintboom deurgaan, is sy hare vasgevang in die terebint. Hy het tussen hemel en aarde bly hang, terwyl die muil wat onder hom was, verder gaan. 10Een van die manne het dit gesien en vir Joab gaan vertel. Hy het gesê: “Kyk, ek het Absalom sien hang aan 'n terebintboom!” 11Daarop sê Joab toe vir die man wat dit vir hom vertel: “Jy het hom sowaar gesien! Waarom het jy hom dan nie net daar teen die grond neergevel nie? Ek sou verplig wees om vir jou tien silwerstukke en 'n gordel te gee.” 12Maar die man sê vir Joab: “Selfs al kan ek duisend silwerstukke op my handpalms afweeg, sal ek nie my hand uitsteek na die seun van die koning nie, want voor ons ore het die koning u en Abisai en Ittai opdrag gegee, ‘Sien om my ontwil om na die jong man, na Absalom.’ 13As ek egter vals opgetree het teen sy lewe – en niks bly vir die koning verborge nie – sou u self maar net opsy gestaan het.”
14Toe sê Joab: “Ek gaan nie so hier voor jou staan en wag nie.” Hy neem toe drie stokke in sy hand en steek dit in die bors van Absalom terwyl hy nog lewend is in die terebintboom. 15 Toe draai tien jong manne, wapendraers van Joab, af, slaan op Absalom toe en maak hom dood. 16 Joab het op die •ramshoring geblaas. Die manskappe het die agtervolging van Israel gestaak, want Joab het die manskappe teruggehou. 17Hulle het Absalom geneem en hom in die beboste gebied in 'n groot gat gegooi. Hulle het 'n baie groot hoop klippe op hom gepak. Die hele Israel het intussen gevlug, elkeen na sy tente toe.
18Gedurende sy lewe het Absalom die gedenksteen wat daar in die vallei van die koning is, geneem en vir homself opgerig; want hy het gesê: “Ek het nie 'n seun om my naam in herinnering te hou nie.” Hy het toe die gedenksteen na homself vernoem, en dit word tot vandag toe die Gedenkteken van Absalom genoem.
Dawid se rou oor Absalom
19Agimaäs, seun van Sadok, het gesê: “Laat ek asseblief hardloop en die nuus aan die koning oordra dat die Here sy reg gehandhaaf het deur hom uit die hand van sy vyande te red.” 20Joab het egter vir hom gesê: “Vandag is jy nie die man vir die nuus nie. Jy kan op 'n ander dag die nuus oordra. Op hierdie dag mag jy nie die nuus oordra nie, omdat die koning se seun dood is.” 21Joab het toe vir 'n Kussiet gesê: “Gaan vertel vir die koning wat jy gesien het.” Die Kussiet het diep gebuig voor Joab en toe gehardloop. 22Maar Agimaäs, seun van Sadok, het weer 'n keer vir Joab gesê: “Wat ook al gebeur, ek wil asseblief ook hardloop – ná die Kussiet.” Waarop Joab vra: “Waarom wil jy dan nou hardloop, my seun? Vir jou sal daar nie 'n boodskappersloon wees nie.” 23“Wat ook al gebeur, ek wil hardloop,” het hy gesê. “Hardloop dan!” het Joab vir hom gesê. Agimaäs het toe met die pad deur die vallei gehardloop en die Kussiet verbygesteek.
24Terwyl Dawid tussen die twee poorte sit, gaan die wag op na die dak van die poort, na die stadsmuur. Toe hy opkyk, sien hy skielik iemand wat alleen aangehardloop kom. 25Die wag roep toe uit en lig die koning in, waarop die koning sê: “As hy alleen is, kom hy met nuus.” Terwyl hy al nader kom, 26sien die wag 'n ander man wat hardloop. Die wag roep toe na die poortwag en sê: “Daar is sowaar nog 'n man wat alleen hardloop!” Toe sê die koning: “Ook hy bring nuus.” 27Die wag sê toe: “Ek sien aan die hardloop van die eerste een dat dit Agimaäs, seun van Sadok, se manier van hardloop is.” Daarop sê die koning: “Dit is 'n goeie man, en dit moet goeie nuus wees waarmee hy kom.” 28Agimaäs het uitgeroep en vir die koning gesê: “Vrede!” Toe buig hy diep voor die koning met sy gesig teen die grond en sê: “Die Here u God moet geprys word; Hy wat die manne oorgelewer het wat hulle hand teen my heer die koning gelig het.” 29Toe vra die koning: “Hoe gaan dit met die jong man, met Absalom?” Agimaäs het geantwoord: “Ek het 'n groot samedromming gesien toe Joab, die koning se dienaar, op die punt was om my, u dienaar, te stuur; maar ek weet nie wat dit was nie.” 30Die koning sê toe: “Draai om en neem jou plek daar in.” Hy het omgedraai en gaan staan 31juis toe die Kussiet daar aankom. Die Kussiet sê toe: “My heer die koning kan die nuus ontvang dat die Here vandag u reg gehandhaaf het deur u te bevry van die hand van almal wat teen u in opstand is.” 32Daarop vra die koning vir die Kussiet: “Hoe gaan dit met die jong man, met Absalom?” Die Kussiet het gesê: “Mag dit met die vyande van my heer die koning en met almal wat ten kwade teen u in opstand is, gaan soos met die jong man.” 33 Die koning het begin bewe, en opgegaan na 'n bovertrek in die poort en gehuil. Terwyl hy loop, het hy hierdie woorde gesê: “My seun Absalom; my seun, my seun Absalom! As ek maar in jou plek kon sterf! Absalom, my seun, my seun!”

Tans Gekies:

2 Samuel 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid