2 Kronieke 3

3
Bou van die tempel
1 Salomo het toe begin om die huis van die Here in Jerusalem te bou, op die berg Moria, waar die Here aan sy vader Dawid verskyn het, op die plek van Dawid wat hy gereedgemaak het op die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet. 2Hy het begin bou op die tweede dag van die tweede maand in die vierde jaar van sy regering. 3Dit was Salomo se grondplan vir die bou van die huis van God: Gemeet in el volgens die ou mate, was die lengte sestig el, en die breedte twintig el. 4Die portaal wat aan die voorkant oor die volle breedte van die •tempel gestrek het, was twintig el breed en twintig el hoog. Salomo het dit aan die binnekant met suiwer goud oorgetrek.
5Die groot vertrek het hy binne met sipreshout bedek, en dit toe met goud van hoë gehalte oorgetrek. Hy het palmette en kettingversierings daarop aangebring. 6Hy het in die vertrek edelstene ingelê as versiering. Die goud was goud van Parwajim. 7Hy het die vertrek – dit is die balke, die drumpels, sy mure en deure – met goud oorgetrek en gerubs teen die mure gegraveer.
8Hy het ook die allerheiligste vertrek ingerig. Die lengte daarvan, oor die breedte van die tempel, was twintig el en sy breedte twintig el. Hy het dit binne met seshonderd kikkar goud van hoë gehalte bedek. 9Die gewig van die spykers was vyftig sikkel goud. Die bovertrekke het hy ook binne met goud bedek. 10Vir die allerheiligste vertrek het hy twee gerubs van gietwerk gemaak en hulle met goud oorgetrek. 11Wat die vlerke van die gerubs betref: Die lengte daarvan was altesaam twintig el. Die een gerub se vlerk was vyf el lank, en dit het aan die een muur van die vertrek geraak. Die ander vlerk was vyf el lank, en dit het aan die vlerk van die ander gerub geraak. 12Die ander gerub se vlerk was ook vyf el lank, en het aan die ander muur van die vertrek geraak. Die ander vlerk was ook vyf el lank, en dit het gestrek tot teen die vlerk van die ander gerub. 13Oopgesprei, was die vlerke van hierdie gerubs twintig el lank. Hulle het op hulle voete gestaan met hulle gesigte na die groot vertrek.
14Salomo het die voorhangsel gemaak van pers, karmosynrooi en purperrooi materiaal en fyn linne. Hy het gerubs daarop aangebring.
15 Hy het voor die tempel twee pilare gemaak, vyf-en-dertig el hoog, elk met 'n kapiteel van vyf el op die bopunt daarvan. 16Hy het kettings gemaak soos 'n halssnoer en dit om die bopunt van die pilare gesit. Hy het honderd granate gemaak en dit aan die kettings vasgeheg. 17 Hy het die pilare aan die voorkant van die hoofvertrek opgerig, een aan die regterkant en een aan die linkerkant. Die een aan die regterkant het hy Jagin genoem, en die een aan die linkerkant Boas.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid