1 Samuel 21

21
Dawid by Agimeleg
1 Dawid het in Nob by Agimeleg, die priester, aangekom. Agimeleg het Dawid vreesbevange tegemoetgegaan en hom gevra: “Waarom is u alleen en is daar niemand by u nie?”
2Dawid sê toe vir Agimeleg, die priester: “Die koning self het 'n saak aan my opgedra, maar hy het vir my gesê, ‘Niemand mag iets weet van die saak waaroor ek jou stuur en jou opdrag gee nie.’ Ek het met my jong dienaars afgespreek om mekaar op 'n sekere plek te ontmoet. 3En nou, wat het u beskikbaar? Vyf brode? Gee dit vir my; of wat u ook al het.” 4Die priester het Dawid geantwoord en gesê: “Gewone brood het ek nie byderhand nie, maar heilige brood is hier wel, as die jong dienaars hulleself maar net van vroue weerhou het. ” 5Dawid antwoord toe die priester en sê vir hom: “Ek verseker jou, niemand van ons het naby 'n vrou gekom nie, soos dit altyd is wanneer ek op 'n veldtog uittrek. Die toerusting van die jong dienaars is heilig. Dit is 'n gewone sending – hoeveel te meer sal hulle dan nie, met hulle toerusting, vandag heilig wees nie.”
6Toe gee die priester vir hom heilige brood, omdat daar geen ander brood daar was nie, behalwe die vertoonbrode wat voor die Here verwyder word om dit met warm brood te vervang op die dag wanneer dit weggeneem word.
7Op daardie dag was een van Saul se amptenare wat afgesonder is voor die Here egter ook daar. Sy naam was Doëg die Edomiet, die voorman van Saul se veewagters.
8Dawid het ook vir Agimeleg gevra: “U het nie dalk hier 'n vegspies of 'n swaard byderhand nie? Ek het nie my swaard of my wapens met my saamgeneem nie, omdat die saak van die koning so dringend is.” 9Toe sê die priester: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die Ela-vallei verslaan het, kyk, dit is in 'n kledingstuk toegedraai agter die efod. As u dít vir u wil neem, neem dit; want hier is geen ander swaard behalwe dié een nie.” Dawid sê toe: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.”
Dawid in Gat
10Dawid het gereedgemaak en dieselfde dag nog vir Saul gevlug, en by Agis die koning van Gat aangekom. 11Agis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit dan nie Dawid dié, die koning van die land nie? Is dit nie vir hom wat hulle in hulle kringdanse gesing het nie?
“ ‘Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende!’ ”
12Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bang geword vir Agis, die koning van Gat. 13 Hy het hom toe voor hulle oë kranksinnig gehou. Hy het voorgegee dat hy waansinnig is terwyl hy in hulle hande was, en het merke gemaak op die poortdeure en die kwyl in sy baard laat afloop. 14Agis het vir sy amptenare gesê: “Kyk, julle sien die man gedra hom soos 'n mal mens – waarom bring julle hom na my toe? 15Het ek 'n tekort aan mal mense dat julle hierdie man gebring het om sy mal streke hier by my te kom uithaal? Moet hierdie man in my huis inkom?”

Tans Gekies:

1 Samuel 21: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid