1 Samuel 1

1
Samuel se geboorte
1Daar was 'n sekere man uit Ramatajim Sofim, in die heuwelland van Efraim. Sy naam was Elkana, seun van Jerogam, seun van Elihu, seun van Togu, seun van Suf, uit Efraim. 2Hy het twee vroue gehad. Die eerste vrou se naam was Hanna en die tweede vrou se naam was Peninna. Peninna het kinders gehad, maar Hanna het geen kinders gehad nie.
3Hierdie man het jaar ná jaar uit sy dorp opgegaan om te aanbid en vir die Here, Heerser oor alle magte, offers te bring in Silo, waar die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, priesters van die Here was. 4 Wanneer Elkana die dag geoffer het, het hy vir sy vrou Peninna en vir al haar seuns en dogters dele van die offervleis gegee. 5Maar vir Hanna kon hy net een deel gee – al het hy haar liefgehad – want die Here het haar moederskoot gesluit. 6Haar mededinger het haar ook erg getreiter om haar seer te maak, omdat die Here haar moederskoot gesluit het.
7So het dit jaar ná jaar gegaan. Elke keer as Hanna opgegaan het na die huis van die Here, het Peninna haar só getreiter dat sy gehuil het en nie wou eet nie. 8Elkana, haar man, het op 'n keer vir haar gesê: “Hanna, hoekom huil jy? Hoekom eet jy nie? Hoekom is jy hartseer? Is ek nie vir jou meer werd as tien seuns nie? ”
9Nadat hulle daar in Silo klaar geëet en gedrink het, het Hanna opgestaan. Eli, die priester, het op die stoel by die deurkosyn van die •tempel van die Here gesit. 10 Sy was bitter ongelukkig en het tot die Here gebid terwyl sy onbedaarlik huil. 11 Sy het 'n gelofte afgelê en gesê: “Here, Heerser oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin wil raaksien en aan my sal dink en u slavin nie sal vergeet nie, en as U aan u slavin 'n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, Here, teruggee so lank hy leef. 'n Skeermes sal nooit oor sy kop gaan nie. ”
12Terwyl Hanna so aanhou bid voor die Here, het Eli haar mond dopgehou. 13Maar Hanna self was besig om in haar hart te praat – net haar lippe het beweeg en haar stem was onhoorbaar. Eli het gedink sy is dronk. 14Eli sê toe vir haar: “Hoe lank nog gaan jy dronk bly? Raak ontslae van jou wyn!”
15Maar Hanna het geantwoord en gesê: “Nee, my heer! Ek is 'n vrou met 'n swaar gemoed. Wyn of sterk drank het ek nie gedrink nie, maar ek het my hart voor die Here uitgestort. 16Moet my, u slavin, nie as 'n slegte vrou beskou nie, want dit is oor my kommer en ontsteltenis wat ek so lank gepraat het.”
17Eli het haar geantwoord en gesê: “Gaan in vrede! Die God van Israel sal jou versoek, dit wat jy van Hom gevra het, toestaan. ”
18“Mag u slavin genade vind in u oë,” het sy gesê.
Die vrou is toe daar weg. Sy het geëet, en haar gesig was nie meer droewig nie. 19Hulle het vroeg die volgende môre opgestaan, voor die Here in aanbidding gebuig, en weer na hulle huis in Rama gegaan.
Elkana het met sy vrou Hanna gemeenskap gehad, en die Here het aan haar gedink. 20Met die draai van die jaar was Hanna swanger en het sy aan 'n seun geboorte gegee. Sy het hom Samuel genoem, “want,” het sy gesê, “van die Here het ek hom gevra”.
Wyding van Samuel aan die Here
21 Hierdie man, Elkana, en sy hele gesin het weer opgegaan om aan die Here die jaarlikse offer en ook sy gelofte-offer te bring. 22Hanna het nie saam opgegaan nie, maar het vir haar man gesê: “Nadat die seun gespeen is, sal ek hom bring, sodat hy voor die Here kan verskyn en vir altyd daar bly.”
23Haar man, Elkana, het vir haar gesê: “Maak soos jy goedvind. Bly maar totdat jy hom gespeen het. Mag die Here net sy woord gestand doen.” Die vrou het toe tuis gebly en haar seun gevoed totdat sy hom gespeen het.
24Nadat sy hom gespeen het, het sy met hom opgegaan, met 'n driejaaroud bul, 'n efa meel en 'n kruik wyn. Sy het hom as 'n jong seuntjie na die huis van die Here in Silo geneem. 25Hulle het die bul geslag en die seuntjie na Eli geneem.
26Sy het gesê: “Asseblief, my heer! So seker as wat u leef, my heer, ek is die vrou wat hier by u gestaan het om tot die Here te bid. 27Vir hierdie seun het ek gebid, en die Here het my versoek, dit wat ek van Hom gevra het, toegestaan. 28Op my beurt staan ek hom nou aan die Here af. Solank as wat hy leef, is hy geleen aan die Here.
Hulle het toe daar voor die Here in aanbidding gebuig.

Tans Gekies:

1 Samuel 1: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid